SOUTVULSELS VIR PANNEKOEK

SOUTVULSELS VIR PANNEKOEK
Gebraaide murgpampoentjie en frankfurter skyfies, gemeng met ‘n lekker tuisgemaakte tamatie-en-uie-smoor.
Roomkaas, gaar spinasie en gebraaide sampioene. Jy kan bietjie gebraaide spek byvoeg as jy wil.
Gevlokte skelvis (haddock) en kaas-mosterd-witsous.
Ham of gaar spek, fyn gesny, gerasperde kaas en bietjie romerige mayonnaise om dit aan te klam. Dis heerlik koud.
Oorskiet hoender en fetakaas-witsous.
Gerookte snoek + avo + mayonnaise.
Gaar brokkolie en geurige romerige slaaisous. Jy kan bietjie spek en geroosterde dennepitte ook byvoeg as jy dit ekstra dekadent wil maak.
Ek het al hoender ala king in pannekoek voorgesit met ‘n ete en die mense was gaande daaroor.
Geurige maalvleis toegerol in die pannekoek en dan in ‘n bak gepak met witsous bo-oor en gerasperde kaas bo-op, gebak tot lekker goudbruin.
Gebraaide sampioene en ham in ‘n lekker geurige witsousie.
Bak klein pannekoekies en voer gesmeerde muffinpannetjies daarmee uit. Maak jou gunsteling bobotie en skep in die pannekoek-bakkies, gooi klein bietjie van die eiervla bo-oor en bak so tot die bobotie reg is. Dit lyk baie mooi en is sommer ‘n anderste manier om bobotie voor te sit vir gaste.
Ek het tot ‘n vegetariese variasie vir julle:
smoor 1 ui (baie fyn gekap) saam met 750 g wortels (kap dit in baie klein blokkies of rasper dit as jy te haastig is) in 30 ml margarien tot dit sag is.
Voeg 1 ½ pakkie sampioene (ook fyn gekap of gerasper) by en braai so rukkie.
Voeg 500 ml vars room en 2 garlic and herb blokkies.
Prut oor lae hitte vir ± 10 min. Dreineer die wortel-sampioenmengsel (sif/ vergietes/gaatjieslepel) en vul 16 pannekoeke daarmee. Pak in ‘n diep oondbak. Gooi die roomsous bo-oor en besprinkel met so 80-100 g gerasperde kaas. Bak vir 20-30 min by 180°C tot kaas mooi goudbruin en alles deurwarm is. Bedien saam met ‘n lekker vars mengelslaai.
BRON – Mariette Visser
Petro Borchard – Ek glo sodawater sal die beslag lekker lig maak.
Ek maak ‘n chicken (of tuna) mayo mengsel en maak lae met pannekoek, gebraaide mushrooms, gebraaide uie, sheba, gerasperde kaas of wat ek ookal in die huis het. Gooi dan kaassous bo-oor en laat deurwarm word. Grill vir ‘n paar minute vir die mooi en sny soos ‘n koek in wiggies. Bedien met slaai of piekels
Hester Vrey – Vir sout pannekoek gebruik ek ‘n blikkie tuna, gemeng met dik kaassous (witsous met bietjie kaas), fyn gekapte ui, fyn gekapte agurtjies, greenpeper. Meng net alles en vul. Jy kan fyn hoender in tuna se plek gebruik. Roomkaas versiersel vir wortelkoek, heerlik vir soet variasie.