FANTASTIESE FOELIE GROENTE
FANTASTIESE FOELIE GROENTE
Ek het die resep by iemand gekry, kan nie onthou waar nie, verbeel my dit was op ‘n blaadjie tydens die Loeriefees.
Veral in die winter is ons lief vir die groente in foelie. Enige vars groente wat jy in groterige stukke kan opsny. Dit bak ongeveer 45 – 60 minute. Indien jy dit dus te klein opsny kan dit fyn kook.
Gebruik na eie keuse:
wortels
klein of groot uie, in kwarte opsny
baba of groot aartappeltjies, in 4 tot 6 stukke gesny
murgpampoentjies
heel babapampoentjies (‘Patty pans’)
patat, opgesny soos aartappels
sampioene
botterskorsies, ongeskil
klein groen skorsies
geel- en / of groenrissies, opgesny in groot stukke
Venita sê dat dit goed werk as jy al die gewaste groente in ‘n groot skottel plaas en dan die speserye oorstrooi. Skud die bak (indien dit ‘n deksel op het, anders verskyn jy dalk ook in ‘n waspoeier advertensie), of meng dit met jou hande deur sodat die speserye die groente heeltemal bedek. Neem ‘n groot rol breë foelie en plaas dit met die
blink kant na onder op ‘n bakplaat. Pak die groente op die foelie, jy kan nou nog speserye oorsprinkel, sowel as knoffel- of gewone botter (opsioneel). Vou die foelie oor die groente, vou die hoeke goed toe sodat geen stoom kan ontsnap nie. Maak seker om die “opblaas” van die foelie toe te laat (klink amper soos Gys se hoenderresep, bak by 180 – 200ºC vir 45 – 60 minute of “Loerie” hom en plaas dit op matige kole vir ongeveer 1 uur.)
Resep geplaas: Lorraine Weitz Brand

