KITI SE MOUSSE KOEK

sjokolade mousse koek kititested
KITI SE MOUSSE KOEK
MOUSSE (Jana se resep)
200 g donker eetsjokolade, in stukke gebreek
75 ml melk
12,5 ml gelatien
30 ml water
4 eiers geskei
10 ml suiker (ek gooi meer in)
5 ml vanilla geursel
250 ml room
Smelt sjokolade in melk.
Smelt gelatien en water in mikrogolf 20 sek. Voeg by die gesmelte sjokolade en roer tot gemeng. Klits eiergele, suiker en geursel baie goed tot heeltemal dik en liggeel. Giet die warm gesmelte sjokolademengsel in en klits net tot gemeng. Klits room styf en vou egalig in. Klits eierwil tot sagtepunt vorm en vou deeglik maar liggies in.
Plaas ongeveer 10 minute in die yskas om net effens ferm te word voordat die koek voltooi word.

FUDGE SOUS: (gegaps by ‘n iemand se pampoenpoffers resep)
250 ml room
200 ml bruinsuiker
50ml botter
Kook saam tot dik. Sny sponskoek (jy gebruik net een laag) in 3 dele, so 1cm dik elk. Smeer fudge sous oor dik twee onderste lae, makliker as dit bietjie warm is. Laat stol. Sit nou ‘n laag bak- of waspapier om die rand van ‘n losboompan, of sommer terug in jou koekpan. Smeer bietjie botter teen die kante om dit te laat klou. Sit nou ‘n laag koek onder, met die helfte van die mousse bo-op. Dan die tweede laag koek, en weer mouse, en die boonste laag. Die ring keer dat die koeklae nie afgly terwyl die mousse heeltemal set nie. Sit in yskas oornag of vir ‘n paar uur tot geset. Keer nou uit, of haal net die ring en papier af.

GANACHE vir bo oor:
150 g donker sjokolade
1 koppie dik room
50 g wit sjokolade
Verhit room tot net wil borrel en haal van stoof af. Smelt donker sjokolade in room, en laat afkoel tot net begin verdik. Skep ‘n lagie oor die koek en laat afdrup. Sit in yskas vir 5 minute. Herhaal met nog ‘n lagie ganache. Smelt intussen jou wit sjokolade tot lekker vloeibaar en drizzle in enige patroon oor. Laat in yskas tot gestol.

Ganache kan ook gebruik word vir truffels. Voeg net ‘n doppie rum by as dit dun is, laat heeltemal stol in yskas, skep uit met ‘n melon baller en rol in vermicelli of kakao.

Sny in skywe as dit yskoud is, kan koud geëet word, maar is nog lekkerder teen kamertemperatuur. (as die weer nie te warm is nie, anders gaan jou lagies afgly)
Jy kan sien my mouse lagies is baie dikker as die koek lae, ek gebruik gewoonlik een gewone koeklaag in 3 gesny (maw die helfte van ‘n gewone 2 laag sjokolade koek).

Resep en foto:  Kiti De Jager