GEEN-KNIE POTBROOD IN DIE OOND
Nou vir hierdie week se resep en as jy gedink het jy kan nie ʼn behoorlike brood bak nie, dink weer. Dié bekende nie-knie-resep is deur ’n New Yorkse deli geprakseer en het die eerste keer in die New York Times verskyn, maar ek het hom so effens verander sodat hy meer na suurdeegbrood proe.
3 koppies (425 g) witmeel (broodmeel werk die beste)
¼ teelepel (1 ml) kitsgis (moenie dink dis te min nie, dis regtig genoeg)
1½ teelepel (7 ml) sout
200 ml water teen kamertemperatuur
85 ml bier (Ek hou daarvan om Lager te gebruik)
1 eetlepel (15 ml) witasyn
Wenk Jy kan ook nie-alkoholiese bier gebruik, maar wat is dan die doel, vra ek jou.
Meng die droë bestanddele saam en roer deurmekaar.
Roer die vloeistowwe by en roer goed deurmekaar.
Spuit kleefwerende middel oor die deeg en bedek die bak met kleefplastiek.
Bêre dit 8 tot 18 uur in ’n kas (hoe koeler die kas, hoe langer moet dit daarin bly). Die deeg moet in volume verdubbel en sulke gesellige borreltjies maak.
Wanneer hy op hierdie punt is, strooi ʼn bietjie meel op ʼn werkoppervlak en keer die deeg daarop uit. Vou nou die deeg 15 keer op soos jy ʼn stuk papier sou opvou. Nie meer nie, al raak die speletjie lekker.
Vorm nou die deeg in ʼn bal, plaas dit op bakpapier en strooi ʼn goeie strooisel meel (mieliemeel werk baie goed) bo-oor. Bedek met kleefplastiek.
Laat dit weer 30-40 minute tot dubbel die volume rys.
Verhit jou oond tot 260 °C met jou gietysterpot (die een waarin mens ʼn potbrood bak) binne-in.
Haal die pot uit die oond wanneer die deeg klaar gerys het. Wees versigtig want hy is baie warm. Laat sak die deeg met die bakpapier binne-in die pot in. (Soos jy kan sien het ek nou maar ’n gewone ou pot hier vir die foto ingespan want my ysterpannetjie uit Holland deug nie heeltemal vir ’n brood nie.)
Plaas die deksel op, draai die oond af na 220 °C en plaas die pot terug in die oond.
Bak 30 minute, haal die deksel af en bak nog 15 minute.
As jy een van daai fênsie termometers het: Die interne temperatuur van die brood moet tussen 90 en 95 °C wees, dan is hy reg vir die plaasbotter en appelkooskonfyt.
Resep: Die Vet Sjef oftewel Albert Buitenhuis
Foto: Ansi Fourie Pypers Fourie
NOTA:Ansi Fourie Pypers Fourie
Onthou net daai deeg staan vir 18 ure. Hoe kouer die plek hoe langer staan hy . 1 ml kitsgis, dis reg. Moet so min inkry.
Ek het ook bietjie kaas oorgesit toe ek gebak het.

