CHIMICHURRI-SOUS

2014-11-10-groensoustested

CHIMICHURRI-SOUS
In Argentinië word dit by alle vleis bedien. Ek is mal daaroor, en dis so natuurlik en gesond boonop. Ek het geen enkele resep gebruik nie, maar maak dit min of meer soos hieronder. Al wat ek beslis ook gaan byvoeg, is gekapte kruisement. Ek gebruik my staafmenger omdat ‘n prosesseerder die sous te fyn maak na my sin. Die chimichurri moet werklik vooraf gemaak word en teen kamertemperatuur ‘n paar uur staan vir die geure om te meng. Hoeveelhede by benadering!! Party resepte het te veel olyfolie.

2 koppies gekapte platblaar-pieterselie
4 geurige knoffelhuisies, gekap
Ongeveer 4 teelepels droë OF 1/4 koppie vars oreganum-blaartjies
Koljanderblare na smaak (opsioneel; “cilantro” vir die Amerikaners)
1 rooi rissie (chili) gekap, OF rissievlokkies na smaak
Goeie knippie seesout soos Maldon
Growwe swart peper, so’n 1/2 teelepel
1/4 koppie rooiwyn-asyn, meer of minder na smaak (tog net NIE “spirit vinegar” nie!)
(‘n Handvol of meer kruisement is wat ek volgende keer sal byvoeg)
Ongeveer 150 ml beste olyfolie (maagdelik!) — minder of meer, na jou smaak.

Sit dit alles soos jy dit opkap in ‘n mengbak, en meng tot grof met die olyfolie. Jy kan ‘n prosesseerder gebruik, maar moenie die sous fyn maak nie.

Hou dit in’n geskikte houer (nie metaal nie), bedek, en laat staan sodat die geure kan meng.

Let op dat dit heerlik sal wees in warm pasta, op roosterbrood met kaas, by warm souttert — omtrent by enigiets!. Soos gesê word dit eintlik by vleis bedien — heerlik by braaivleis!
Bron:  Zuri Roos