ET SE ANYSBESKUIT
My “kinky” anys beskuit al besig om uit te droog! Sommer in Ouma se ou knie emmer gemaak.
2½ kg koekmeel
15 ml sout
3 x 10 g pakkies kitsgis
250 g gesmelte botter/margarien (ek bak met Stork-to-Bake)
4 eiers geklits
1 x 397 g blik kondensmelk
louwarm water (ongeveer 3 tot 4 koppies)
30ml Sambuca anys likeur (of anys geursel of gedroogde anys na smaak) {ek sal volgende keer dubbel die hoeveel anys likeur gebruik aangesien die geur nie sterk genoeg is na my smaak}
Meng die koekmeel, sout en gis.
Smelt die botter en meng met kondensmelk en Sambuca en spoel die blikkie uit met warm water en voeg al die nat bestandele (insluitended die geklitste eiers) by die droë bestanddele.
Begin knie en voeg louwarm water bietjies – bietjies by om ’n sagte kniebare deeg te vorm.
Sit die bak met deeg op ’n warm plek neer en bedek die deeg. Ek sit ‘n glasbottel met warm water in die deeg om dit vinniger te laat rys en maak die deeg toe met kleefplastiek, ‘n skoon lap en vou toe in kombers.
As die deeg tot dubbel sy volume gerys het, knie dit af tot sy oorspronklike grootte.
Voorverhit die oond tot 200°C.
Smeer twee plat oond panne en skud uit met meel.
Maak lang *rolletjies (amper die lengte van die pan) van 200g deeg . Smeer elke rolletjie goed met gesmelte margarien of botter en vleg twee rolletjies saam. Pak 5 dubbel rolletjies gevlegde deeg in elke pan en laat weer rys tot amper dubbel die hoeveelheid.
Sit die panne in die oond, stel temp af na 180°C en bak vir 50 to 60min teen 180°C.
Keer die beskuit uit die panne en laat effens afkoel voordat jy dit in stukke breek.
Droog dit uit in ’n lou oond en laat heeltemal afkoel voordat jy dit in lugdigte houers wegpak.
*indien jy verkies om dit in bolletjies te rol maak seker jy het genoeg smeer (olie of gesmelte botter/margarien) op jou hande sodat die bolletjie maklik kan afgebreek word wanneer hulle gaar is. Pak styf teen mekaar in brood panne en laat rys voordat jy dit bak.
ElsabeTempleton

