SJOKOLADE KARAMEL NEUTE KOEKIES

sjokolade koekies 1testedsjokolade koekies

SJOKOLADE KARAMEL NEUTE KOEKIES
Resep en foto:  Esme Slabbert
Bron: Resep by my suster se dogter gekry.
Dit is die heel lekkerste koekies in die hele wêreld!!!!!! Koop maar bietjie ekstra sjokolade, want jy sal vinniger eet as wat jy kan bak.
500 g botter (kamer temperatuur), ja en asb gebruik regte botter en nie margarine nie!!
500 ml wit suiker
500 ml bruin suiker
4 ekstra groot eiers
10 ml vanilla
4 koppies koekmeel
5 koppies oats (fyngemaak – soos growwe meel) – moenie kits oats gebruik nie.
5 ml sout
10 ml bakpoeier
10 ml koeksoda
3 groot slabs cadbury sjokolade, opgekap in stukkies (480 g altesaam) – sny elke blokkie in 2 of 3 stukkies.
125 g bar-one sjokolade, opgekap in stukkies (of ander sjokolade wat sjokolade en toffee bevat)
500 ml amandels, fyngekap

Oond op 180 ºC.
Spuit bakpanne met kleefwerende middel. Ek bak op silicone matte en dit werk perfek.
Gebruik ‘n groot mengbak en room die botter en suiker.
Voeg die eiers een vir een by en klits.
Gooi die vanilla en droë bestanddele by, vou in (gebruik hande want dit werk die beste en maklikste).
Voeg die sjokolade en neute by, vou in.
Plaas groot teelepels vol deegmengsel in pan en druk effens plat – ongeveer 4 in ‘n ry op ‘n groot bakplaat, die koekies sprei nogals.
Bak net 12 minute lank, hulle raak vinnig bruin.
Laat op plaat afkoel voor probeer oplig, laat dan verder afkoel op droograk.
Van die sjokolade smelt, van die stukkies bly heel en die toffee maak ‘n lekker taai gedeelte in elke koekie wat gelukkig was om bietjie daarvan in te gekry het.
Probeer jouself beperk tot net 2 koekies op ‘n dag.

PS: Ek het die resep noodgedwonge aangepas want ek het ‘n houer Macadamia toffee clusters gehad wat per abuis in my motor agterbly het en in die warmte wat ons tans beleef (hier in Vancouver, Kanada) gesmelt het in een groot blob. Ek het dit toe in die mikrogolf weer ligweg gesmelt en op ‘n pakplaat op foelie uitgesmeer en laat hard word in die yskas en toe in klein stukkies gebreek en gebruik in plek van die sjokolade en bar one en almonds en dit het heerlik uitgekom. Sal dit beslis weer maak.