VULSELS VIR TOEBROODJIES

VULSELS VIR TOEBROODJIES
Vleisvulsels
BOELIEBIEFSMEER
‘n Vleisvulsel wat ‘n paar dae in die yskas gehou kan word. Smeer
brood met blatjang voordat die vulsel opgesit word.
1 x 300 g blik boeliebief, fyngedruk
100 g komkommer, fyngekap
30 ml gekapte grasuie
50 ml mayonnaise
5 ml suurlemoensap
Meng al die bestanddele goed saam. Plaas in ‘n verseëlde houer in
die yskas.
KERRIEHOENDERVULSEL
Gebruik dié vulsel saam met blaarslaai.
250 ml gevlokte koue, gaar hoender
15 ml mayonnaise
1 ml matige kerriepoeier
5 ml blatjang
‘n paar druppels Tabasco-sous
Meng al die bestanddele goed saam. Plaas in ‘n bedekte houer in die
yskas.
Wenk: Gebruik oorskiet gaar hoender of koop hoender wat reeds
gaargemaak is, óf maak ‘n paar stukkies hoender gaar, vries en
ontdooi soos verlang.
Vinnige vleisvulsels:
Skyfies koue bees-, lams-, vark- of hoendervleis gemarineer in
Franse slaaisous, saam met slaaibestanddele.
Koue bobotie saam met blatjang en piesangskyfies.
Gerasperde biltong, aangeklam met ‘n bietjie aangemaakte mosterd.
Gekapte Weense worsies, gemeng met aangemaakte mosterd en
mayonnaise.
Fyngekapte ham, gemeng met gekapte, ingemaakte pynappel en
mayonnaise.
Lewerpatee, tamatieskyfies en blaar slaai.
Gevlokte (of skyfies) oorskiethoender of -kalkoen, komkommerskyfies
en toebroodjiesmeer. (Gekrummelde bloukaas kan by toebroodjiesmeer
gevoeg word.)
Dun skyfies Frankfurters of gaar boerewors saam met mosterd (sous
of aangemaakte mosterd).
Soutbeesvleis en agurkies, aangeklam met mayonnaise. Geur met
blatjang en gekapte grasui.
EIERVULSEL MET SONNE BLOMSAAD EN HAM
1 hardgekookte eier, gekap
7 ml mayonnaise
1 ml mosterdpoeier
1 knoffelhuisie, gekneus
10 ml sonneblomsaad, gerooster (opsioneel)
1 hamskyf, in blokkies gesny
Meng al die bestanddele.
Wenk: Die vulsel kan die vorige aand gemaak word en in die yskas
gebêre word.
Vinnige eiervulsels
Roereier, gemeng met ‘n bietjie mayonnaise en ‘n bietjie
tamatiesous, of roereier en tamatieskyfies.
Fyngekapte hardgekookte eier, gemeng met brosgebraaide spekvleis en
aangeklam met ‘n bietjie slaaisous of mayonnaise.
Fyngemaakte hardgekookte eier, gemeng met aangemaakte mosterd.
Hardgekookte eierskyfies, komkommerskyfies en toebroodjiesmeer.
Wenk: ‘n Hardgekookte eier bly langer goed as dit nie afgedop word
nie.
Hardgekookte eiers kan vir ‘n paar dae in die yskas gebêre word.
VULSEL MET KAAS EN SPEKVLEIS
200 g cheddarkaas, gerasper (500ml)
4 repe swoerdlose spekvleis, gesnipper en brosgebraai
1 ml aangemaakte mosterd
20 ml blatjang
Meng al die bestanddele. Bêre in ‘n ver seëlde houer in die yskas of
vries.
VULSEL MET MAASKAAS EN BEESVLEIS
Gebruik met ‘n skyfie koue, gaar beesvleis op brood
125 g gladde maaskaas ( houertjie)
15 ml blatjang
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
‘n paar druppels Tabasco-sous
1 agurkie, gekap
4 skyfies gaar beesvleis
Meng al die bestanddele, behalwe die vleis. Plaas saam met
blaarslaai op growwe brood.
Vinnige kaasvulsels
Maaskaas/roomkaas, gemeng met een van die volgende bestanddele:
heuning, tamatiesous, vissmeer, gekapte eier, gaar geurige
maalvleis, gekapte ui en piekels.
Maaskaas, gemeng met gerasperde kaas, gekapte radys en komkommer of
agurkies en mayonnasie.
Gerasperde kaas, gemeng met toebroodjiesmeer, saam met ‘n
slaaiblaar.
Gekrummelde bloukaas, gemeng met toebroodjiesmeer.
Krummelmaaskaas (gegeur of ongegeur), gemeng met toebroodjiesmeer,
saam met ‘n skyfie salami (veral op rogbrood).
Skyfies mozzarellakaas, salami en tamatie op rogbrood. Komkommer en
blaarslaai is ook lekker hiermee saam.
TUNAVULSEL
1 x 185g-blikkie tuna, gedreineer en gevlok
ui, gekap
30 ml mayonnaise
15 ml tamatiesous
15 ml blatjang
4 argurkies, gekap
Meng al die bestanddele.
Plaas op ‘n broodrolletjie met ‘n blaarslaai.
Nog mengsels:
Suurlemoenbotter, vissmeer, gerasperde kaas en agurkies.
Fyngedrukte sardientjies, gemeng met rooipeper, hardgekookte eier
en suurlemoenbotter en/of mayonnaise.
AVOKADO-EN-SPEKVLEISSMEER
Met dié vulsel is dit onnodig om die brood te botter.
As dit gebêre word, moet kleefplastiek liggies oor die smeer
geplaas word.
125 g swoerdlose spekvleis, gekap en brosgebraai
1 ryp avokado, fyngedruk
10 ml gerasperde ui
1/4 of 1/2knoffelhuisie, gekneus
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
10 ml suurlemoensap
15-25 ml mayonnaise
Meng al die bestanddele goed saam.
TOEBROODJIESMEER
Toebroodjiesmeer kan op sy eie gebruik word of om ander vulsels
veral dié met eier of kaas op te kikker.
1 Engelse kommommer, gerasper en gedreineer
1 ui, fyngekap
3 geelwortels, gerasper
1 groot rooi soetrissie, ontpit en gekap
1 groot groen soetrissie, ontpit en gekap
wit asyn om groente mee te bedek
ñ 500 ml mayonnaise
Plaas groente in ‘n glasbak, bedek met asyn en laat oornag staan.
Dreineer goed en meng met mayonnaise.
Skep in skoon flesse, maak toe en bêre in die yskas tot benodig.
Nog lekker idees
Lizette Erasmus
Pynappelsmeer saam net russian skyfies.
Kaas met sweet chilli sous
Ham en perskekonfyt
Advokadopeer met biltong
Joyce Woodley
Eier mayo met ‘n titseltjie sweet chilli in.
Rita Labuschagne
Roomkaas gemeng met fyn blikpynappel of fyn gesnyde dadels.
Nog iets is ñ rolletjie gemaak met ñ snytjie brood gebotter, bietjie mayo met korsies afgesny. Plaas ñ aspersie op die punt en rol op. Lyk soos ñ worsrolletjie. Plaas met die snykant onder en in die yskas tot nodig. Sny in die helfte. Aldrie broodjies is heerlik.
Maalvleiskerrie is ook heerlik
Jy moet jou toebroodjies die aand vantevore maak en in die yskas hou en dan in die oggend die korsies afsny en dan in driehoekies.
Cornel de Beer
As dit vir mans is sny die brood in die lengte en vul met mengsel van gebraaide baked beans in bully beef saam met uie en speserye.