KLEINMAAT VETKOEK
4 x 250 ml koekmeel
7 ml kitsgis
5 ml suiker
3 ml sout
600 ml lou water of lou kookmelk en water
olie vir smeer en diep- of vlakbraai
Sif die meel, gis, suiker en sout saam in ’n groot mengbak.
Meng die vloeistof geleidelik by om ’n deeg te maak wat maklik hanteerbaar is.
Knie tot die deeg glad en elasties is – dit duur ongeveer 8 minute.
Bestryk met ’n bietjie olie, maak warm toe en laat op ’n warm plek tot dubbel die volume rys – dit sal sowat 2 uur duur.
Knie die deeg liggies af en rol dit in ’n lang rol van ongeveer 4 cm in deursnee.
Knyp stukke van omtrent 4 cm af en druk plat tot 1 cm dik.
Laat effens rys op ’n gesmeerde oppervlak. Verhit die olie vir vlak- of diepbraai, soos verkies, in ’n groot pan of kastrol.
Braai die vetkoek tot goudbruin aan weerskante en dreineer op papierhanddoek.
Sit dit warm voor saam met kerriemaalvleis of botter en stroop.
Maak ongeveer 10 vetkoeke.
Vulsel:
Verhit olie in ’n kastrol. Voeg maalvleis by en braai vir so 6 minute. Die vleisstukkies moet net loskom van mekaar. Voeg gekapte uie en knoffel by en braai verder vir so 10 minute. Voeg tamaties, kerriepoeier en borrie by. Geur met sout en swartpeper. Voeg water by en bedek. Laat vir minstens 2 uur prut. As vleis lyk of dit wil droog kook, kan jy nog water byvoeg.
fOTO EN RESEP: Natalie Williams

