

KALAHARI-LAMSPASTEI
KORS:
500 ml bruismeel
125 g botter
5 ml bakpoeier
droë of vars kruie na smaak
50 ml water
Plaas die bruismeel, botter, bakpoeier en droë of vars kruie in voedselverwerker of vryf in met die vingers vir daai outydse gevoel.
Verwerk op hoë spoed tot dit lyk soos mieliemeel.
Voeg die water by en meng tot alles in een bal saamkom.
Rol uit op meelbestrooide oppervlakte en voer ‘n gespuite 2 liter glasbak uit met die deeg.
Sny deeg wat oorhang af en rol weer uit. Skep vulsel in en bedek met ekstra deeg. Sny rand netjies af. Draai bak toe in foelie; maak bo vas met ‘n toutjie en maak seker dis stewig geseël.
VULSEL
Maak jou gunsteling vulsel van lam, bees, hoender of sommer vegetaries. Maak net seker jou vulsel is genoeg om die bak tot bo VOL te maak – die boonste deeg-deksel moet nie insak nie.
MY VULSEL
2 uie
2 fyngekapte knoffelhuisies
1 kg lamsblokkies, of watter vleis jy verkies
250 g gesnyde sampioene
100 g tamatiepasta
500 ml vleisaftreksel
1 – 2 blikkies bier van jou keuse
sout en varsgemaalde swartpeper
Braai die uie en knoffelhuisies saam.
Voeg die lamsblokkies, gesnyde sampioene en tamatiepasta by en braai nog tot bruin.
Giet die vleisaftreksel en bier by en geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Verlaag hitte en laat prut tot sag en sous dik is.
(Ek hou daarvan om maar bietjie bevrore groentes by te voeg vir daai spesiale kleur – en ook vars kruie.)
GAARMAAKMETODE
Plaas in pot met 3 cm water op bodem. Plaas deksel op en seël.
Bring tot kookpunt en stoom pastei vir 2 ½ uur lank.
Maak seker daar is deurentyd genoeg water in pot.
Haal uit en laat staan 10 minute en keer uit op opdienbord.
Nooi maar die vriende om saam te kom eet, want ons twee kon nie ‘n duik maak in die outjie nie.
Foto en resep: Helene Kluge