BASIESE TAMATIESOUS
Verhit die olie in ’n kastrol. Voeg die ui en seldery by en soteer tot sag. Voeg die knoffel by en soteer vir nog ’n minuut.
Voeg die tamaties, lourierblare, droë kruie en suiker by en verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut vir 45 minute met die deksel op. Roer nou en dan.
Haal die lourierblare uit en roer die vars basilie by. Gebruik ’n stokmenger en pols tot glad. Geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper. Vries die sous in bakkies of gooi dit in gesteriliseerde bottels en seël dit.
Nog idees
Gebruik die tamatiesous as basis vir ’n hoendergereg deur ’n bietjie Mexikaanse of Marokkaanse speserye en gekapte vars koljander by te voeg.
Vir ’n vegetariese bredie, sit groenteblokkies en kekerertjies by en laat sag prut. Lekker met koeskoes of rys.
Voeg enige van die volgende bestanddele by om die geur van die sous te verander: gekapte brandrissies, rooiwyn, olywe, gekapte groen soetrissie, pesto, geroosterde groente, opgesnyde artisjokke, gebraaide eiervrugblokkies, gekapte spek, gerasperde parmesaan of gekrummelde feta of bloukaas.

