ADAM SE MOER-BY HOENDER-HERDERSPASTEI


ADAM SE MOER-BY HOENDER-HERDERSPASTEI
Ek kook toe twee hoenderborsies gaar saam met uie, speserye, sout en peper. Terselfdertyd kook ek 4 aartappels gaar saam met ‘n verlore blomkoolkoppie wat vergete was en al beter dae geken het. Toe die hoender gaar is, haal ek dit en die uie uit die water en gebruik dieselfde water om 2 soorte pastas, waarvan bietjies wat in die sakkies oor was, ongeveer 500g opgemaak het, gaar te kook. Intussen braai ek 2 groenrissies wat in stukkies gesny is in bietjie olie tot sag en roer ‘n blikkie gekapte sampioene daarby. Met die hoender ook in stukkies gesny, meng ek toe die hele spul, behalwe die aartappels wat ek saam met die gaar blomkool koppie mash. Die aftreksel van die hoender, waarin die pasta gekook is, is net genoeg om ‘n pakkie witsous en ‘n pakkie sampioensous in te meng en die sous roer ek ook in die hoendermengsel. In ‘n oondbak skep ek ‘n laag hoendermengsel met ‘n laag aartappelmengsel bo-oor en strooi bietjie kaas daaroor. Volg dit op met die res van die hoender en bo-op die res van die aartappels en nog bietjie kaas bo-oor. Onder die rooster tot mooi goudbruin, en daar is my moerbei-pastei.
RESEP EN FOTO: ADAM CLOETE