AVOKADO TERT
Kors:
1/3 Koppie gesmelte botter
1 ½ koppie Tennisbeskuitjie krummels (oorspronklike resep sê Graham Crakers)
¼ koppie suiker
Meng die botter, krummels en suiker deeglik en druk dit vas op die bodem van ‘n tertbord sodat dit ongeveer 1/3 van ‘n sentimeter dik is. As die krummelmengsel nie wil vassit waar jy dit druk nie, voeg ‘n eetlepel water by die mengsel. Maak dit mooi gelyk en maak seker daar is nie gate in die kors nie. Indien jy die kors vir 1 uur in die yskas laat, voor jy dit bak, sal jy verseker dat dit nie verkrummel wanneer jy dit bedien nie.
Bak vir ongeveer 8 – 10 minute by 180ºC. Die kante van die kors kan begin verbruin, maar jy wil nie hê dat dit te bruin moet word nie.
Laat dit afkoel voor jy die vulsel insit.
Vulsel:
¼ koppie lemmietjiesap
¼ koppie suurlemoensap
3 teelepels ongegeurde gelatine
3 medium-grootte ryp, fyngemaakte Hass Avokados
1 blikkie kondensmelk
Meng die lemmietjiesap, suurlemoensap en gelatien in ‘n klein bakkie en laat staan vir ongeveer 5 minute.
Meng dan die gelatienmengsel goed met die kondensmelk en die Avokadopasta en skep dit in die koue krummelkors. Plaas in die yskas vir ten minste 3 ure tot die mengsel behoorlik gestol het.
Voor jy die tert sny is dit goed om die tertbak se onderkant vir ‘n paar sekondes in warm water te hou vir die gelatien om los te kom.
Bedien met geklopte suurroom.
Resep en Foto: Adam Cloete

