MARIA SE TUNA ROL

2014-03-01-tunarolladetested
MARIA SE TUNA ROL

45 ml botter
60 ml koekmeel
250ml warm melk
125ml gerasperde cheddarkaas
3 eiers, geskei

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n vel bakpapier met botter of olie en gebruik dit om ’n middelslag-rolkoekpan mee uit te voer sodat die kante van die papier bo die rande van die pan uitstaan. 
Klits 3 eierwitte styf. Smelt die botter in ’n kastrol en voeg die koekmeel by. Verhit, terwyl jy roer, tot die mengsel borrel. Voeg die melk geleidelik by en hou aan roer tot die mengsel glad is en begin kook. 
Verwyder van die hitte en roer die kaas en eiergele by. Vou ’n groot lepel eierwit by die kaassous in om die mengsel ligter te maak. Vou nou die res van die eierwit versigtig in tot net deurgewerk. Skep die mengsel in die voorbereide pan en smeer gelyk. Bak vir 12-15 minute tot opgepof en goudbruin. Haal uit die oond en keer die rollade uit op ’n skoon teedoek. Trek die bakpapier versigtig af en laat effens afkoel.

Maak jou vulsel aan:

Opsie 1 (ek het dit nog nie gemaak nie)
1 x 230 g gerookte ham-geur roomkaas
125ml gesnipperde, gerookte ham
1×410 g blik aspersielote, baie goed gedreineer en fyngekap

Opsie 2
English spinach fyn opgesny, gemeng met ricotta. Dan gooi ek so n bietjie kruie (basil/rocket) fyngekap by. Sout en peper en dan so bietjie sweet chillie of salsa

Opsie 3
Tuna goed gedreineer, aangemaak met ‘n gegeurde maaskaas en fyn opgekapte rooi ui

Smeer vulsel op en rol in die lengte op. Plaas in foelie in die yskas tot voor opdiening. Myne staan gewoonlik oornag.

Bolaag (vir 2 rollades)

300ml Griekse yoghurt
230g Suurroom (die soort in die houertjies wat lyk soos maaskaas houers, is effens stywer)
½- ¾ k Mayonnaise
sweet chilli
Potato spice van Ina paarman
Gekapte knoffel, sout en peper na smaak.

Op hierdie mates kan jy ‘n halwe gerasperde komkommer byroer. Ek het ook al die suurroom vervang met roomkaas. Sous was toe bietjie dikker maar net so lekker! As jy die sous bietjie suurder wil hê kan meer mayo of bietjie suurlemoensap bygevoeg word.

Bron: Maria Liebenberg