OUMA SE GERASPERDE AARTAPPEL EN WORTELKOEK

adam se wortel en aartappelkoektested

 OUMA SE GERASPERDE AARTAPPEL EN WORTELKOEK
Ek het ‘n baie ou resep wat baie van julle seker ken. Dit is “Ouma se gerasperde aartappelkoek”. Ek het egter gisteraand besluit om dit bietjie aan te pas en wortels in plaas van aartappels te gebruik en nie ‘n idee gehad oor wat gaan gebeur nie. Julle kan self oordeel. Ek het egter in gisteraand se poging 750g wortels gebruik en aangevul met 150g aartappels. Dit is egter met groot vertroue wat ek die volgende resep met julle deel.

900 g gerasperde aartappels / wortels, of gekombineer
4 groot eiers
4 eetlepels fyngekapte pietersielie of seldery
2 fyngemaakte knoffelhuisies
sout en peper
1 teelepel neutpoeier
50 g botter
2 eetlepels olyfolie

Meng die gerasperde aartappels / wortels, eiers, pietersielie / seldery, sout, peper en neut en die knoffel in ‘n mengbak.
Verhit die botter en 1 eetlepel olyfolie in ‘n groot braaipan. Wanneer dit so warm is dat die skuim begin verminder, krap die aartappelmengsel in die pan en smeer dit egalig oor die pan. Werk vinnig want die pan is warm en die eier begin onmiddellik onder te stol. Kook vir ongeveer 3 minute oor hoë hitte sodat die onderkant kan verbruin en verminder dan die hitte vir ongeveer 6 – 7 minute vir die aartappelmengsel om styf te word.
Plaas ‘n bord bo-op die pan en draai dit om sodat die bo-kant onder in die bord lê en gly dit terug in die pan. Skuif ‘n paletmes onder die koek in en lig dit versigtig op om die ander eetlepel olie onder die koek in te laat. Verhoog die hitte weer vir 3 minute om die anderkant te verbruin en kook dan verder vir ongeveer 6 minute om die koek heeltemal te laat stol.
Laat effens afkoel, en gly dit uit op ‘n bedienbak, of keer dit weer om met ‘n bord en plaas dit dan in ‘n bedienbak. Ek het gevind dat altwee kante basies dieselfde lyk.
NOTA. Omdat die eiers bietjie klein gelyk het, het ek besluit om 5 te gebruik en omdat wortels nie soveel stysel het om te help bind nie, het ek toe nog een bygesit vir veiligheid. Ek het dus medium grootte eiers vir die wortels gebruik.
Resep en foto:  Adam Cloete