DUBBEL SJOKOLADEKOEK

dubbel sjokoladekoektested

DUBBEL SJOKOLADEKOEK
Die resep kan ook as poeding gebruik word
As jy nie ’n kitskoek wil bak nie, is dié ’n staatmakerresep. Dit is so ryk en lekker dat jy amper nie versiersel nodig het nie. Tog is dit heerlik met karamel tussen-in die lae en bo-oor gesmeer.

3 groot eiers
100 g goeie gehalte melksjokolade, in blokkies gebreek
375 ml warm, sterk koffie
5 ml vanieljegeursel
375 ml karringmelk
750 ml strooisuiker
625 ml meel
375 ml kakao
10 ml koeksoda
3 ml bakpoeier
5 ml sout
180 ml olie

Só maak ’n mens:
Voorverhit die oond tot 150°C en voer drie koekpanne van 20cm in deursnee met bakpapier uit. Spuit ook sommer deeglik met kleefwerende sproei om te voorkom dat die koek vassit.
Klits die eiers in ’n elektriese menger vir 5 tot 10 minute tot lig en donsig.
Giet die warm koffie bo-oor die sjokolade en roer elke nou en dan tot die sjokolade gesmelt het.
Voeg die vanieljegeursel by die karringmelk en meng.
Sif die suiker, meel, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout saam.
Stel die menger op sy laagste spoed en voeg die olie in ’n dun straaltjie by om ’n emulsie te vorm.
Voeg die karringmelk en vanieljegeursel by en dan die sjokolade-en-koffiemengsel.
Skep die droë bestanddele by die beslag en roer totdat deeglik gemeng is.
Verdeel die beslag tussen die koekpanne en bak sowat 30 minute tot gaar.
Laat heeltemal in die panne afkoel en keer dan uit op ’n draadrak. Die koek kan vir tot drie maande gevries word. Versier met versiersel van jou keuse, of gebruik twee blikke karamel om die koek op te tert.

Vulsel deur Ilona Turner
Ek het die dubbel laag sjokolade koek resep gevat en hom in ‘n plat pan gebak en die volgende verander aan die resep, i.p.v 375 ml sterk swart koffie het ek 200 ml espresso gebruik en 175 ml kalua, die vulsel en bo laag is gemaak van die volgende:

500 ml room
2 bakkies mascarpone
175 ml strooisuiker
175 ml kalua of enige goeie koffie liqueur
30 ml kakaopoeier
1-2 teelepels kits espresso
5 ml vanilla

Klop alles saam tot lekker styf en sit in die middel en bo-oor die koek. Ek het dit opgedien as ‘n poeding saam met tuisgemaakte arbei en cherry konfyt en vla.
Foto en resep:  Ilona Turner