BASIESE SOUTTERT
(4 – 6 porsies)
Enige bestanddele soos koue vleis, hoender of vis kan gebruik word om hierdie sout happie in iets besonders te omskep, oorskietvleis is ideaal vir die resep
15 ml (1 eetlepel) olyfolie
15 ml (1 eetlepel) botter of margarien
1 medium ui, grofgekap
250 g kaasworsies, skywe gesny
125 g knopiesampioene, skywe gesny
30 ml (2 eetlepels) vars gekapte kruie of 10ml (2 teelepels) droë
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250 ml (1 koppie) gerasperde cheddarkaas
2 ekstra groot eiers
200 ml melk
45 ml (3 eetlepels) koekmeel
Stoof plaat en Oond:
Verhit die olie en die botter in ‘n swaarboompan. Voeg die ui by en braai dit vir ’n paar minute lank totdat dit sag en effens bruin is.
Voeg dan die gesnyde worsies, sampioene, kruie en geurmiddels by en braai liggies. Haal van die plaat af en laat dit ‘n tydjie afkoel.
Meng die kaas by en skep in ’n oondvaste bak van omtrent 18cm in deursnee
Klits dan die melk, eiers en meel saam en giet oor die uiemengsel in die oondvaste bak. Druk ‘n vurk in die mengsel dat die eiermengsel bietjie tussen jou vleis ingaan,
Bak dit vir omtrent 25 minute teen ongeveer 180 °C of tot dit geset het en goudbruin is.
Alternatief:
Die worsies kan vervang word met enige ander vleis soos maalvleis, streepspek vleis of gekapte ham.
Vir ’n vegetariese opsie gebruik groente soos spinasie, aspersies, kersietamaties of preie.
Foto: Rina Kleinhans
Nota: Ek het gaar hoender gebruik wat ek saam met uie, sampioene, songedroogte tamaties, ertjie en murgpampoentjie gebraai het. Ek het my vulsel ook bietjie meer souserig gemaak, maar dit sal perfek werk daarsonder. Indien jy ‘n groter tert maak, pas die eiers en meel beslis aan, ek sou biejtie meer gebruik volgende keer.