SLAP PAP-STYWE PAP-KRUMMEL-PAP
Die geheim van goeie pap lê in die regte verhouding van water tot meel. Maar hoeveel water vir slappap – en hoe gereeld roer jy krummelpap nou weer? Ons verduidelik jou mooi.
Jy benodig
(genoeg vir 4-6 mense)
Vir stywepap
1½ koppie water en 1 koppie mieliemeel
Vir sagte ontbytpap
2 koppies water en 1 koppie mieliemeel
Vir krummelpap
1 koppie water en 1 koppie mieliemeel
Só maak jy
Stywe- en ontbytpap
Meng die helfte van die koue water met die meel en hou dit eenkant. Giet dan die res van die water in ’n pot, geur dit met sout, en verhit die water tot dit vinnig borrel en kook.
Skep die meelmengsel by en verlaag die hitte. Prut die pap vir 20-30 minute terwyl jy dit aanhoudend roer om ’n gladde dog stywe tekstuur te kry. Stywepap prut omtrent 5 minute langer as ontbytpap.
Krummelpap
Giet die water in ’n pot met ’n deksel, geur dit met sout en verhit dit tot kookpunt. Giet al die meel op een slag by sodat dit op ’n hoop in die middel van die pot lê. Moenie dit roer nie.
Sit die deksel op en kook die meeltoring vir 7 minute.
Krap die pap met ’n vurk los sodat dit fyn krummels maak.
Draai die hitte laer (of verminder die kole) en stoom die pap vir 20-30 minute tot dit sag en gaar is.
Roer ’n klontjie botter in en skep op.
Bron: Wegsleep
Marianne de Beer
Die maklikste manier wat ek my kids geleer het is om 2 koppies water te kook en dan so ½ koppie mieliemeel met koue water te meng tot ‘n gladde pasta en dan by die kookwater in te roer. Jy kan bietjie meer meel gebruik, maar soos hulle dit maak het dit dan nie melk nodig nie, net klontjie botter en suiker.
