JAN SE STEAKBRAAI RESEP
JAN SE STEAKBRAAI RESEP
Ek het verneem dat julle belangstel in baie goeie braai resepte en hier is ‘n beproefde steakbraai resep wat ek al male sonder tal gemaak het vir bitter baie mense met ‘n altyd positiewe terugvoer! Selfs Amor het dit al op RSG die land in gestuur. Ek hoop julle probeer dit en geniet net soos ons almal!
Jy het nodig ( vir 4 boeremense ):
4 x 500 gr goed verouderde steaks ( T-been , kruis of lendeskyf ), 1 – 1.5 duim dik gesny
1 x 750 ml sonneblom olie ( ander olies se vlampunt is te laag )
1 x 470 gr Ms Balls Original Chutney ( ander blatjang smaak nie lekker nie )
1 x 750 ml All Gold Tamatiesous ( ander tamatiesous smaak nie lekker nie )
3 x huisies knoffel, fyn gekerf
‘n Braaitang, nie ‘n vurk nie ( mens seel nie vleis en steek dit dan stukkend met ‘n vurk nie!? )
‘n Goeie sak Rooikrans hout ( sy hittevlak wanneer die kole reg is, is die hoogste en seel dus die vleis die beste )
‘n Tawwe persoonlikheid, want jy gaan armhare skroei en vingers rooi brand
So maak jy:
Lê vleis in in ‘n plastiek of hout bak ( staal gee ‘n onaangename smaak af ) deur al die souse en olies en knoffel te meng en die vleis toe te maak met die hele mengsel aan alle kante – plus minus 2 ure voor jy gaan braai.
Maak ‘n ordentlike vuur met die hele sak hout. Neem genoeg vloeistof in terwyl jy wag aangesien die braai ‘n vinnige maar geweldige warm storie gaan wees wat jou gaan tap van baie liggaamsvog!
Sodra die hout omtrent alles in kole verander het, krap die kole uit in ‘n gelyke bed onder ‘n rooster wat om en by 30cm bo dit is. Dis hier waar jy die armhare en vingers gaan seermaak.
Pak jou steaks op die rooster. Die olie sal nou bo-op die sous in die bak dryf. Giet genoeg ( maar nie te veel nie ) hiervan eweredig oor die vleis sodat die kole die olie onmiddellik aan die brand steek en jy vlamme het wat al die vleis oorweldig en baie hoer as dit uittroon. Op hierdie punt gaan almal jou vertel hoe jy sopas die beste gehalte vleis voor hulle oë opge#@$ het! MAAR steur jou nie daaraan nie, want die olie seel die vleis en keer dat dit brand. Die geweldige hitte seel weer die vleis.
Draai die steaks almal ongeveer 1 min later om en doen weer dieselfde aan die ander kant.
Gooi nou alle olie af van die sous – dis maklik, want die olie dryf bo.
Braai nou jou steaks sonder vlamme verder deur dit elke keer, as jy dit omgedraai het, eers deur die sous in die bak te smeer voor dit weer vuur toe gaan. Die suiker in die sous karamaliseer op die manier en is dan eetbaar wanneer die steaks klaar is. Jy draai gereeld en braai solank soos wat jy normaalweg jou steak se gaarheid wil hê. Onthou jy kan altyd ‘n te rou steak weer kole toe vat, maar as hy oorgaar is, kan net die hond jou help. Ek en my gesin eet steak Medium – rou, wat beteken dat ons die tipe dikte steak nie langer as so 6 – 7 min aan ‘n kant braai nie.
Moenie die vleis te lank laat rus nie, want ‘n koue stuk vleis werk nie. Moet ook nie sout opgooi voor die steak in elke ou se bord is nie. Die souse het in elk geval van nature baie sout in. Ons doen glad nie sout nie.
Jy kan sous voor die tyd maak en dan oorgooi in die bord of die “gaar” sous wat in die bak oorbly oor die steak in jou bord gooi.
Bykosse:
Jy kan kies tussen 2 beproefde opsies:
Chips, uieringe en mengelslaai.
Sampioene gevul met knoffelbotter en Cheddarkaas ( braai ook op die vuur ), groenbone ( braai in pan met botter ), pampoen en “aartappel met skil” ( opgekook ) gevul met suurroom.
Eet sonder geraas en verlang na al die liefdevolle mense in jou verlede
Resep en foto: Jan Kruger

