ANNELIE BRAAI VIS
ANNELIE BRAAI VIS
Kom ons braai vis!!
Vir die resep het ons ‘n Rooi Stompneus gebruik, maar Geelstert, Wit Steenbras en selfs Engelvis werk baie goed. Hou tog net Kabeljou en Geelbek in die pan, want hy word te gou droog op die vuur! Vir so 4 – 6 mense.
Uit die Kombuiskas:
1 x Wit Vis van so om en by 3 – 4 kg, gevlek van die ruggraat af, pens uit en skoon gewas, maar nie ontskub nie
Atlantiese seesout
Grof gemaalde Swart Peper
250 gr harde Botter
3 x opgehoopte eetlepels Mayonnaise
10 ml Rooi Peper
Sap van 1 Suurlemoen
15 ml Mixed Herbs
1 x tot Brandewyn
( Knoffel en/of Appelkooskonfyt is opsioneel en alhoewel dit lekker geure tot gevolg het, kan dit ‘n delikate vissmaak opdollie )
1 x Silikoon kwassie
Sorg dat jou vis droog gedruk is van alle water. Sout en swart peper na smaak en laat rus een kant. Voeg alle ander bestanddele in ‘n potjie en smelt, maar moenie kook of prut nie. Dit vorm ‘n baie geurige sousie wat jy nou liggies warm hou.
Pak nou jou vuur vir genoeg, maar middelmatige warm kole.
Wanneer kole gereed is, plaas vis op rooster met vleis kant na onder ongeveer 40cm bokant kole.
Draai gereeld om en verf vleiskant mildelik met die sous elke keer.
As jy dink jou vis is amper gaar, haal af. As jy wag tot jy dink hy gaar is, is hy droog en die hond gaan lekker eet! Die vis gaan in elk geval heel gaar raak in jou bord voor jy eet, maar gaan nog sag en sappig ( nie rou nie ) wees.
Bykosse:
Probeer ‘n Mengelslaai met ietsie soets en surig in soos pynappel, dille en gepiekelde uitjies. Franse broode met tuisgemaakte appelkooskonfyt werk ook of ‘n rysslaai met soetrissies, ui en tamatie.
Geplaas deur Annelie Kruger

