KERRIE SOUSBONE
Hier is ‘n nuwe inlê lekkerte vir die Food Lovers. Ek is besig om sousbone in te lê en het een kooksel gekerrie en dit het baie lekker uitgekom. Dis my eie resep.
1 pakkie suikerboontjies (500 g), sorteer hulle en verwyder klippies ens. (oornag geweek)
1 eetlepel olie
3 uie, gekap
1 teelepel knoffel, fyn gekap
1 eetlepel borrie
3 teelepels Amina’s kerriepasta
1 ¼ koppies witasyn
1 ¼ koppies suiker
5 ml Ina Paarman geurselsout
3 ml gewone sout
Plus/minus 2 eetlepels Maizena om mee te verdik.
Kook die boontjies tot sag in skoon water (sonder sout).
Dreineer van die water af tot daar omtrent ‘n koppie water oorbly as die boontjies gaar is.
Voeg die olie, knoffel, uie, borrie en kerriepasta in ‘n aparte pot en braai dit baie stadig vir 5 minute. Verwyder van die hitte.
Roer die suiker en asyn by, asook die soute.
Roer tot suiker opgelos het.
Voeg nou die kerriemengsel by die gaar boontjies en bring dit stadig tot kookpunt. Meng die Maizena met bietjie van die sous in die pot en meng goed deur terwyl dit stadig kook en verdik.
Bottel dit dadelik in warm gesteriliseerde flessies en plaas onderstebo tot afgekoel.
Notas:
Ek het ligte bruinsuiker gebruik en wit asyn (PnP se maak)
Jy kan witsuiker gebruik, myne was net bietjie min.
As jy nie kerriepasta in die hande kan kry nie, gebruik Rajah medium kerriepoeier, omtrent 15 – 20 ml. Net gewone sout en bietjie swart peper sal ook reg wees.
Ek het 5 flessies (heuning flessie grootte) uitgekry. En ‘n bietjie vir proe
Ek het ‘n tregter van ‘n melkbottel gemaak wat ek afgesny het en dit werk soos ‘n bom. Spoel al die lepels ens. wat jy gebruik met kookwater af.
Dit het onder R25 gekos om te maak. Heerlik!

