HEERLIKSTE KWEPERJELLIE

kweperjellietested
KWEPERJELLIE
Resep en foto: Natasha Steyn
FOOD LOVERS RECIPES
Sny enige swart kolletjies en kneusplekke van die kwepers af en sny in stukke ongever 3 cm groot.  Los maar die stronke en pitte in.  Die pitte het glo baie pektien in om die jellie jellierig te maak.
Giet genoeg water op om die kwepers net-net te bedek.
Kook saggies vir omtrent ‘n uur.
Dit behoort nou so lig-pienk te wees.
Plaas ‘n sif oor ‘n groot bak, voer die sif met ‘n groot stuk kaasdoek uit en giet die heel vrugtestukke en sap in die kaasdoek.  Bind die doek toe en laat dit net daar sit en drup vir ‘n paar ure, verkieslik oornag. Moenie die doek druk nie.
(Die vrugtepulp wat oorbly kan apart met suiker opgekook word om lpmfyt te maak.)
Meet hoeveel liter die sap is en voeg 2 koppies suiker en die sap van een suurlemoen vir elke 600 ml kwepersap by.
Kook alles saam vir omtrent 20 – 25 min.  Hou ten alle tye ‘n ogie daarop!
Sit terselfdertyd ‘n pot met koue water op die stoof met jou bottels en deksels.  Teen die tyd wat dit tot kookpunt gekom het en 10 minute lank gekook het (om dit te steriliseer) sal jou jellie omtrent gereed wees.
As die mengsel so begin opbruis, laat dit nog net 2 minute kook en haal dan van die hitte af.  As jy dit te lank kook is dit meer ‘n soort dik konfyt en nie meer ‘n mooi helder jellie nie.
Skep die skuim van die jellie af.
Haal die bottels en deksels uit die kookwater en giet die vuurwarm kweperstroop in elke bottel tot dit propvol is.  Draai die deksel op terwyl jy jou hande met ‘n handdoek beskerm teen die hitte.
Draai die bottels onmiddellik onderstebo en los hulle so tot hulle afgekoel het.
Laat die jellie staan vir ‘n paar weke om die geur te laat ontwikkel.  Hulle sê die jellie raak ook bietjie dikker as jy dit laat staan.
Ek het een halwe botteltjie gehad, so toe eet ek sommer dadelik daarvan.  Ek het nog nooit so iets lekker op toast geëet nie!