ROOIFLUWEEL KAASKOEKBRUINTJIES (BROWNIES)

1456562_653097751415214_608002996_ntested

ROOIFLUWEEL KAASKOEKBRUINTJIES (BROWNIES)
Lewer 20 blokkies.
½ koppie gesmelte botter
60 g donkersjokolade, in blokkies gebreek
1 koppie suiker
2 groot eiers
1 eetlepel vanilla geursel
2 teelepel rooi voedselkleursel
160 ml koekmeel
¼ teelepel sout
Vir die kaaskoekmengsel:
240 ml (1 houertjie) roomkaas teen kamertemperatuur
80 ml suiker
1 groot eier
½ teelepel vanilla geursel

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Smeer met botter of bespuit ’n oondvaste bak van 20 x 15 cm met kleefwerende kossproei.
Voeg die sjokolade by die warm botter en roer tot gesmelt (jy kan dit nog ’n paar sekondes in die mikrogolf sit om die proses aan te help, maar hou dit goed dop). Laat eenkant ’n bietjie afkoel.
Klits die suiker, eiers, vanieljegeursel en kleursel saam in ’n groot mengbak.
Voeg die bottermengsel by en roer tot glad. Die beslag moet rooi wees, so voeg nog ’n bietjie kleursel by indien nodig.
Sif die meel en sout bo-oor die beslag en roer tot net gemeng (moet dit nie te veel roer nie). Giet die beslag in die bak.
Berei die kaaskoekmengsel voor: Klits die roomkaas, eier, suiker en vanieljegeursel saam in ’n mengbak tot baie glad.
Skep lepelsvol van die kaaskoekmengsel bo-op die bruintjiemengsel. Meng liggies met ’n bottermes sodat die bruintjiebeslag met die kaaskoekmengsel meng vir ’n gemarmerde voorkoms. Moenie te energiek meng nie.
Bak 35-40 minute tot gaar. Die kante van die bruintjies sal effens verbruin. Laat heeltemal in die pan afkoel en sny dan in blokkies. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas.

Aangestuur deur: Jenny van der Westhuizen
Foto: Wynand Chantelle Van Huyssteen