MADELEINE VAN BILJON SE PARDOEMSKOEK
MADELEINE VAN BILJON SE PARDOEMSKOEK
200 g (340 ml) glanskersies, afgespoel en in kwarte gesny (ek gebruik 100 g groen en 100 g rooi)
25 ml brandewyn
10 ml kakao
10 ml kits koffiepoeier
500 ml kookwater
1 kg droëvrugte koekmengsel
7 ml koeksoda
300 g (375 ml) suiker
125 g (135 ml) margarien
3 ekstra groot eiers, geklits
360 g (750 ml) koekmeel
7 ml bakpoeier
1 ml sout
5 ml gemengde speserye
5 ml fyn gemmer
25 ml brandewyn
Voorbereiding van die pan: smeer die kante van ‘n ronde 23 cm koekpan goed en voer dit uit met waspapier. Plaas 20 lae bruinpapier onder op die bodem van die pan. Plaas ‘n laag waspapier bo-op die bruinpapier en smeer goed. Draai 12 lae bruinpapier om die pan en bind dit stewig vas met tou, Maak ‘n deksel van aliminiumfoelie blink kant na binne om op te sit tydens die bakproses.
Die volgende stap kan reeds die vorige aand gedoen word: Marineer die kersies minstens 1 uur lank in die brandewyn. Los die kakao en koffiepoeier in kookwater op en plaas saam met die droëvrugte koekmengsel, koeksoda en suiker in kastrol. Verhit tot kookpunt en kook dan 5 minute lank. Roer sodat dit nie aanbrand nie. Verwyder van die hitte, voeg die margarien en gemarineerde kersies met brandewyn en al by. Roer goed en koel heeltemal af. Laat staan oornag.
Voorverhit die oond tot 140°C (275°F).
Voeg die geklitste eiers by die vrugtemengsel.
Sif die koekmeel, bakpoeier en geurmiddels saam en voeg dit stadig by die vrugtemengsel terwyl goed geroer word.
Skep die beslag in die voorbereide pan, bedek met die aliminiumfoeliedeksel blink kant na binne en bak 4½ uur lank of totdat ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Koel die koek in die pan af en giet die 25 ml brandewyn oor. Verwyder uit die pan wanneer heeltemal afgekoel.
Verseël die koek dig met swaar aliminiumfoelie en bêre ongeveer ‘n week lank voordat dit gesny word.
Lewer ‘n groot koek.
Indien langer bêre, gee elke week 25 ml brandewyn bo en onder op koek.
Foto en resep geplaas deur Stompie Theron Borman
