LEKKER EENVOUDIGE HOENDERPASTEI
LEKKER EENVOUDIGE HOENDERPASTEI
Soos ek al genoem het, maak ek hierdie resep al jare. Dit is ekonomies en tog is dit ryk aan smaak. Dit is romerig, proe soos hoender en oordonder die soppoeier dit glad nie, inteendeel . . . dit komplimenteer die hoender. Ek gebruik selde sampioene want dit is alreeds so geurig dat jy dit nie eers mis nie. Na al die jare bly dit ‘n gunsteling by my huisgesin. Dit maak ‘n groot bak maar ek moet erken . . . die seuns hou nie op eet voordat alles klaar is nie.
2 kg hoenderstukke
1 pak Ready Dough (Puff Pastry)
2 groot uie
2 hoenderekstrakblokkie
2 pakkie hoenderroomsop
2 blikkie gemengde groente (gedreineer)
500 g sampioene (as jy wil)
Kook hoender, ekstrakblokkie en uie saam tot hoender van been af val. Haal vleis van bene af en gooi terug in kastrol. Hou ± 2 koppies sous oor. Braai sampioene in bietjie olie en voeg by hoendermengsel tesame met hoenderroomsop. (Meng dit net so droog (poeier) by. Indien nodig, geur met nog sout en peper.
Voorverhit oond by 180 ºC. Verdeel Ready Dough in twee gelyke dele, druk een gedeelte in oondskottel en bak (blind) tot gaar. Voeg dan hoendermengsel by en sit res van deeg oor. Druk vas en smeer met eiergeel en bak vir 30-40 min tot kors bo-op gaar en bruin is.
Heerlik saam met groente in die winter en slaai in die somer.
Genoeg vir ruim 6 porsies.
Resep en foto: Lorraine Weitz Brand

