GEURIGE HOENDER-FOELIEGEBAK

foil pascelstested
GEURIGE HOENDER-FOELIEGEBAK
Vriendin se kamp hoender- sy kan nie onthou waar sy die resep/beginsel gekry het nie. Dalk kan n kosmater help.
GEEN SKOTTELGOED: Geurige hoender-foeliegebak
Soms het ‘n mens iets nodig wat nie te veel moeite is nie, en wat ook geen moeite agterlaat nie. Tog moet dit vingeraflek-lekker wees en sommer ‘n yslike gesin kan voed:
Ek is mal oor kos wat ‘n mens net so kan saamflans – veral die wat nie regtig skottelgoed maak nie. Hierdie hoender- en worsiegereg maak jy in foelie toe voordat dit oor die kole, of in die oond gebak word. Die lekkerste is dat jy die bestanddele kan aanpas soos jy die dag voel. En die beste is dat jy dit met brood kan voorsit, wat jy dan deur die sous kan trek! Geen moeite. Moenie nog huiwer nie – maak dit vanaand!

Vir die sous:
25 ml bruinsuiker
25 ml balsemieke asyn
25 ml Worcestersous
25 ml olie
50 ml blatjang
5 ml heelkorrel- of soetmosterd
paar druppels Tabasco, opsioneel

Vir die foeliepakkie:
8 hoenderstukke: vlerkies, boudjies of dye
dun boerewors, of dun spek- en kaaswors
verskeidenheid sampioene – groot bruin, knopiesampioene, portabellinis
1 ui, sny in agt skywe
kersietamaties
sout en varsgemaalde swartpeper
25 ml witwyn (of water)

Begin deur ‘n plastiese sakkie te kry. Dis nou as jy regtig nie skottelgoed wil maak nie, anders kan jy ‘n bakkie gebruik. Gooi al die bestanddele vir die sous daarin. Voeg ook die hoenderstukke by en meng sodat die hoender heeltemal bedek is met sous.
Kry nou die foelie gereed.
Mens het ongeveer ‘n meter nodig hiervoor. Vou dit in die helfte, met die blink kant na buite.
Gooi die hoender in die middel van die foelie uit.
Sny die wors in ongeveer 5 cm-stukke. Rangskik dit tussen die hoender.
Voeg dan ook die sampioene, sommer so heel, en die uie en kersietamaties by. Werk dit maar so uit hoeveel elke persoon omtrent van elke item sal eet.
Gooi sout en swartpeper oor en rangskik alles mooi. Sprinkel die wyn oor alles.
Bring nou al die kante van die foelie in en maak dit styf toe. Kry maar ‘n groot snybord, bak of pan om dit in te sit soos jy dit van die een plek na die ander dra.
Sou jy op die punt agterkom dat jou foelie te min, of jou bestanddele te veel is, kan jy net eenvoudig nog ‘n stuk foelie omdraai, of bo-oor sit.
Die kan jy nou op die warm vuur sit, of in die gasbraaier, of in die oond by 220 °C. Dit neem sowat ‘n uur om gaar te word.
Al wat jy hoef te doen is om die pakkie na ‘n halfuur oop te maak en te kyk of alles nog reg is – jy kan dan ook sommer die hoender omdraai. Vou die foelie weg en laat dit dan oop verder gaar word.
As jy over the top wil gaan, kan jy fetakaas oorstrooi net voor jy dit tafel toe dra. Swart olywe is net so ‘n lekker toevoegsel – veral as jy dit saam in die foelie bak.
Sit die foeliegebak net so in sy foelie voor. Gee vars snye brood, broodrolletjies of chips om deur die sous te trek
Resep geplaas deur Rene Truter Wessels