HALOUMI, AVO EN WARMTAMATIESOUS SLAAI
HALOUMI, AVO EN WARMTAMATIESOUS SLAAI
Ek het die lekkerste slaai vanaand gemaak
20 kersietamaties (rooi en geel, indien verkrygbaar)
1 teelepel suiker
2 eetlepels rooiwynasyn
sout en varsgemaalde swartpeper
1 eetlepel olyfolie
haloumikaas
meel, opsioneel
olie, om te braai
blaarslaai
1 avokado
Begin deur die kersietamaties in kwarte te sny. Sprinkel dan die suiker, rooiwynasyn, ‘n groot knippie sout en varsgemaalde swartpeper oor. Roer deur en laat dit eenkant staan.Sny dan die haloumikaas in repies – ‘n 1 cm-deursnee werk goed.Sprinkel dit met ‘n hoogvol dessertlepel meel en meng goed. Dit gee ‘n ekstra crispy laag, maar jy kan dit ook daarsonder braai.
Rangskik die blaarslaai van jou keuse op ‘n opdienbord. Sny die avokado in dun repies en rangskik dit oor die blaarslaai.
Nou kan jy die haloumi braai. Verhit ‘n dun lagie olie in ‘n braaipan.
Braai die haloumivingers tot goudbruin aan die een kant voor jy dit omdraai. Dit hoef maar tussen 1 en 2 minute aan ‘n kant te braai. Toets dit deur daarop te druk, die kaas moet regdeur sag voel.
Rangskik die kaas op die slaai en kry die tamaties reg – gooi die hele tamatiemengsel in ‘n vlak kastrol, of in ‘n pan en laat dit net tot kookpunt kom. Laat dit ‘n halwe minuut kook, voeg die olyfolie by en skep dit oor die slaai. Skep veral van die sous oor die haloumi – dit trek in.
Eet onmiddellik.
Foto: Leanne Thurston Coetzer
Nota: Rina Kleinhans.. as jy die avo skywe onder koue water afspoel verkleur dit nie so vinnig nie 🙂

