BOBOTIE IN OONDPANNE


BOBOTIE IN OONDPANNE
Die resep het ons by NG-kerk Tafelbaai in Table View gemaak en elke selleier moes 2 oondbakke bobotie gemaak het. Die resep is dus vir ‘n klomp mense, maar ek halveer dit soms of ek deel alles deur 4 as ek bv net 1 kg maalvleis gebruik.
GROEP A :
120 ml gemaalde gemmer
120 ml sagte bruin suiker
60 ml kerriepoeier
60 ml borrie
40 ml sout
8 ml peper
240 ml margarien
10 uie, gekap
Plaas al die bestanddele in ‘n pot en verhit sonder om te brand. Voeg die margarien by en sorteer die uie daarin.
GROEP B
8 snye witbrood in water geweek
4 kg maalvleis
1 koppie blatjang
½ koppie appelkooskonfyt
½ koppie asyn
½ koppie worcester sous
½ koppie tamatiepasta
Druk die ergste water uit die brood en roer dit saam met al die ander bestanddele van groep B by die uiemengsel. Kook die mengsel vir 20 min oor matige hitte en roer gereeld. Skep in ‘n oondvaste bak
GROEP C:
6 koppies melk
8 eiers
Klits die melk en eiers saam en giet oor die vleismengsel. Bak ongeveer 45 min by 180°C. Ek gooi nie baie uie in nie, want dan wil die kinders dit nie eet nie. Jy kan ook 200 g pitlose rosyne ingooi by GROEP B, maar ek los dit uit vir die kinders se onthalwe. Terwyl dit bak, kyk ek maar gereeld, want soms vind ek dat 45 min te lank is, veral as jy die resep halveer. Maak maar redelik baie, want dit vlieg redelik vinnig. Hoop julle vind dit net so lekker soos ons gesin.
Bron- Cecilia Dumas Nortje