WENKE VIR HIGIENIESE HANTERING VAN HOENDER

2013-07-01-4goedwatjymoetweetoorhoender

WENKE VIR HIGIENIESE HANTERING VAN HOENDER
In bredie, roerbraai, gebraai of gestoom,  hoender se veelsydigheid ken geen einde nie. Verwyder die vel, dan is dit een van die goedkoopste keuses, as dit by gesond eet kom.
Bedek hoender dadelik om dit teen bakterieë te beskerm.
Wees veilig met hoender: Hoender is hoogs bederfbaar en moet daarom met sorg hanteer word. Bakterieë vermeerder by ‘n sekere graad van hitte, temperature tussen 8ºC en 75 °C is die gevaarsone. Verhoed bederf deur kos so vinnig as moontlik buite hierdie gevaarsone te kry, hetsy deur dit te verhit of bo 75 °C warm te hou of so vinning as moontlik te laat afkoel en dan in die yskas te plaas.
Yskas wenke: Moenie warm kos in die yskas plaas nie, dit maak al die ander kos in die yskas meer vatbaar vir bakteriese bederf.
Bêre rou vleis op die onderste rak van die yskas en gaar kos op die boonste rakke, sodat rou kos nie op gaar kosse kan drup nie.
Kapborde: Moenie dieselfde kapbord en mes gebruik waarop rou hoender gesny is om bv. slaai op fyn te kerf nie. Die slaai kan besmet word met die bakterieë van die rou hoender.
Skrop kapplanke en messe in warm seepwater om ontslae te raak van kieme. Was jou hande gereeld. Meeste kombuise het kleurkodes vir kapplanke, vir rou en gaar kos.
Rou vs gaar: Moenie gebraaide hoender met dieselfde tang waarmee jy dit uit die marinade gehaal het, van die kole verwyder nie. Moet dit ook nie in dieselfde bak plaas as waarin die rou hoender in was nie.
Wenke: Marie Rheeder Troskie