SUURLEMOEN MERINGUETERT

suurlemoen meringue tert 2
SUURLEMOEN MERINGUETERT

Lewer middelslag-tert van 25cm in deursnee
Kors:
275 ml koekmeel
1 ml sout
80 ml (75 g) sagte botter of margarien
60 ml koue water

Vulsel:
250 ml suiker
175 ml mielieblom (maizena)
1 ml sout
500 ml water
3 groot eiers (geskei)
25 ml (20 g) botter of margarien
100 ml suurlemoensap
125 ml strooisuiker

Kors:

Sif koekmeel en sout saam. Voeg die botter/margarien by en roer die water by. Meng tot deeg ‘n bol vorm en plaas in sakkie in yskas vir 30 min.
Verhit die oond tot 220ºC. Rol deeg dun uit en voer ‘n gesmeerde tertbak met volume van 1 liter daarmee uit. Prik boom met ‘n vurk en bak die kors blind vir 15 minute. Verwyder waspapier met bone/rys, en bak die kors ‘n verdere 10 minute. Laat kors heeltemal afkoel.

Vulsel: Meng die suiker, mielieblom en sout saam in die boonste deel van ‘n dubbele kastrol. Roer die water by. Verhit die mengsel oor kokende water tot dik; roer dit af en toe. Laat dit vir 15 minute stadig kook.
Voorverhit die oond tot 160*C. Klits die eiergele, voeg bietjie van die warm mengsel stadig hierby en roer dan alles geleidelik by die mengsel in die dubbele kastrol. Roer dit 2 minute oor kokende water. Haal die mengsel van die kokende water af, roer die botter/margarien by en laat dit afkoel. Roer die suurlemoensap by. Skep die suurlemoenvulsel in die tertkors. Klits die eierwitte totdat stywe punte vorm. Klits twee derdes van die strooisuiker geleidelik by. Vou die res liggies met ‘n metaallepel in die meringue in. Skep die meringue op die suurlemoenvulsel.
Bak die tert 15 minute lank op die middelste oondrak tot ‘n baie ligte bruin. Sit dit warm of koud voor

Foto: Regina Strydom