MERINGUE VLA KOEK


MERINGUE VLA KOEK
Beslag:
115 g(125 ml) botter/margarien
100 g(125 ml) strooisuiker
3 ekstra groot eiers, geskei
2 ml vanilla
140 g(250 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier
1 ml sout
60 ml melk
160 g(200 ml) witsuiker
sprinkelneute
Vulsel:
25 g(50 ml) vlapoeier
250 ml melk
250 ml room
100 g(125 ml) witsuiker
1 ekstra groot eier
knypie sout
Voorverhit oond tot 180ÂșC. Smeer, of bespuit met kleefwerende kossproei, twee laagkoekpanne van 20 cm in deursnee. Bedek die boom van elke pan met ‘n sirkel waspapier.
Verroom die botter en strooisuiker saam. Voeg die eiergele een vir een by en klop goed na elke byvoeging. Voeg die vanilla by en meng.
Sit die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer die gesefte bestanddele en melk beurtelings by die eiergeelmengsel en begin en eindig met gesifte bestanddele. Skep die beslag in die twee panne en maak dit gelyk.
Klits die eierwitte tot skuimerig. Klits die suiker geleidelik by en klits totdat ‘n dik, glansende meringue gevorm het. Skep lepelsvol meringue op die beslag (moenie dit gelyk maak nie) en strooi sprinkelneute bo-oor.
Bak die koeklae 20 tot 25 minute tot gaar en effens bruin. Laat hulle ‘n rukkie in die panne afkoel. Sny die kant los, indien nodig en keer hulle versigtig uit – probeer om die meringue nie te veel te breek nie. Verwyder die waspapier en laat die koeklae op ‘n draadrak heeltemal afkoel.
Meng die vlapoeier met die helfte van die melk tot glad. Verhit die res van die melk saam met die room en suiker tot kookpunt. Klits die vlamelk, eier en sout saam en klits ‘n klompie van die kookmelkmengsel geleidelik hierby. Roer die vlamengsel by die oorblywende kookmelkmengsel en roerkook oor matige hitte tot dik – oppas vir aanbrand.
Bedek die gaar vla met nat waspapier – dit voorkom ‘n vel bo-op – en laat dit afkoel.
Net voor opdiening: Keer een koeklaag op ‘n opdienbord om sodat die meringurlaag onder is. Skep die koue vlavulsel daarop. Plaas die tweede koeklaag liggies bo-op en sit voor. Lekker eet!
Foto : Retha Collett