KOEJAWELS IN SUIKERSTROOP

KOEJAWELS IN SUIKERSTROOP
15 ryp koejawels, geskil en deurgesny
5 ½ koppies suiker
1 liter water
12 naeltjies
1 kaneelstok

In groot pot maak jy alles stadig warm terwyl jy dit roer met ‘n houtlepel totdat die stroop kook en die suiker gesmelt is, laat dit stadig prut totdat die stroop begin dik raak en op die agterkant van ‘n lepel bly klou.
Gly die koejawels in die stroop en prut saggies tot die koejawels net sag is, moet dit nie pap kook nie.
Trek die pot van die stoof en laat die koejawels afkook in die stroop.
Jy kan dit warm in flesse inlê of jy kan dit in die yskas laat staan vir tot 3 weke.
As jy inlê sorg dat jou bottels gesteriliseerd is, pak jou vrugte dan met ‘n lepel in warm bottels, gooi die warm stroop oor.
Skud om borrels uit te haal, seël die bottels, sit in ‘n kastrol met kookwater wat oor die bottels se koppe strek en kook vir 15 minute.
Daarna kan hulle spens toe tot jou lus jou weer kom kry en jy ‘n bottel oopmaak.
As jy gril vir die pitte kan jy dit uitskep voor jy dit kook, en die koejawels in die middel deursny.
Bedien die koejawels saam met sy stroop en slagroom.
Resep:  NIEL STEMMET KOSKENNER