WORTELSLAAI MET VRUGTEKELKIE

WORTELSLAAI MET VRUGTEKELKIE
‘n Resep met ‘n vreemde kombinasie van bestanddele, maar heerlik. Dit is tannie Sarie van Kareedouw se resep.
Slaai:
1 blik vrugtekelkie (410 g)
1 koppie gerasperde kaas
2 koppies gerasperde wortels (of meer)
1 soetrissie, klein blokkies gesny
uieringe of groen uitjies
handvol rosyntjies
handvol grondbone
appelblokkies
Mosterdsous:
6 eiers
1 koppie suiker
1 koppie asyn
2 groot eetlepels mosterdpoeier
3 eetlepels botter
sout
Meng die slaai bestanddele liggies saam.
Maak die mosterdpoeier met bietjie asyn aan. Klits die eiers hierby.
Voeg al die bestanddele vir die sous bymekaar in ‘n potjie.
Kook vir ‘n rukkie, terwyl gedurig geroer word. Die sous maak 750 ml.
Meng die sous met die slaai soveel volgens smaak.
Nota – Nie al die sous word vir die slaai gebruik nie. Die sous is handig om in die yskas te hê vir bv. worsrolletjies, toebroodjies, ens. Jy kan die sousresep halveer.
Nota Marlene – Ek het  die resep so bietjie aangepas om dit meEr aantreklik te maak en nie die mosterdsous met die slaai gemeng nie, dit lyk mooier wanneer jy die slaai met die sous apart voorsit of net liggies bo-oor giet. Ek het ook die vrugtekelkie se sous dreineer voor dit bygevoeg is by die slaai, dit raak te souserig, jy kan altyd die kelkie se sous met die mosterdsous meng om dit bietjie meer vloeibaar te maak. Ek het ook rooiui gebruik ipv gewone ui, die kaas in blokkies gesny ipv rasper en die wortels grof gerasper.
Resep getoets en foto: Marlene Potgieter