WILDSPASTEI MET SKAAPSKENKELS


WILDSPASTEI MET SKAAPSKENKELS
(Bedien 10-12)
1.5 kg wildsblad of -boud
375-500 ml karringmelk
125 g swoerdlose spek, gekap
2 eetlepels botter
1 groot ui, gekap
3 knoffelhuisies, gekneus
500 g skaapskenkels, in 25 mm-skywe gesaag
2 eetlepels koekmeelblom
1 teelepel sout
vars gemaalde swartpeper
1 heel ui, geskil met 5 naeltjies daarin gesteek
2 lourierblare
2 teelepel fyn koljander
2 koppie aftreksel, verhit
1 koppie rooiwyn
400 g skilferkorsdeeg
1 eier, geklits

Marineer die wildsblad of boud in karringmelk vir een dag in die yskas. Druk vleis droog en gooi karringmelk weg. Sny dit in 25-mm blokkies.
Braai spek in verhitte botter of olie tot bros en skep uit. Braai gekapte ui in dieselfde kastrol tot sag saam met die knoffel. Skep uit. Voeg ‘n bietjie olie by en braai lamskenkels in dieselfde kastrol tot goudbruin. Skep uit.
Bedek die stukkies wildsblad of boud met koekmeelblom en braai ‘n paar stukkies op ‘n keer tot goudbruin. Voeg lamskenkels, spek en uie by wildsvleis in kastrol. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper, en voeg die heel ui met naeltjies by. Voeg ook die lourierblare en koljander by, gevolg deur aftreksel en rooi wyn. Verhit tot kookpunt, verlaag temperatuur en bedek met ‘n deksel. Laat prut 3-4 uur, of tot die vleis sag is en van die bene afval. Laat afkoel en verwyder bene en heel ui. Vlok vleis. Prut die sous totdat dit dik is. Laat afkoel.
Meng sous by die vleis soos verlang, skep in ‘n groot pasteibak en versier met deegrepies. Prik deeg met ‘n vurk. Verf met geklitste eier en bak 15 minute by 230°C. Verlaag temperatuur tot 180°C, en bak nog 30-35 minute. Bedien met gestoofde droëvrugte.
Resep geplaas deur Rene Truter Wessels