CREMORATERT MET BAIE VARIASIES

CREMORA KOFFIE YSKASTERTtested

CREMORATERT MET BAIE VARIASIES
Hierdie resep kom uit die Wenresepte 500. Dit is die basiese resep. Aangesien ons gewoonlik vir 40 of meer mense kook elke dag, het ek dit bietjie aangepas.
So ek gee dit nou soos ek dit maak.

BASIESE BESTANDDELE
500 g Cremora
250 ml warm water
250 ml suurlemoensap
2 blikkies kondensmelk

Eerstens vat jy 500 g cremora en gooi 250 ml warm water by. Vat dan die whisk en klop dit goed tot al die klonte uit is. Sit dan sommer in die vrieskas dat dit gou koud word.
Hierdie is die basiese deel. Cremora is nou in die vrieskas.
Kry solank jou tertbak uit en pak ‘n laag tennisbeskuitjies onderin. Nou kan jy die suurlemoensap en die kondensmelk solank saam klits. Kry die cremora uit die vrieskas en klits saam met die kondensmelk en suurlemoensap! Onthou om die heeltyd te proe… lol. Dit word nou hierdie een romerige spul, nou is jou basiese vulsel reg. Jy kan dit net so gebruik of jy kan met dit speel.

Hier is nou ‘n paar voorbeelde van wat ek al gedoen het.
Cremora Tiramisu:
In plaas van tenninsbeskuitjies vat jy vinger beskuitjies en pak in die bak. Maak dan lekker sterk, swart soet koffie aan en gooi oor die beskuitjies.
Gooi bietjie van hierdie koffie in jou basiese mengsel.
Skep nou oor die beskuitjies, pak nog ‘n laag beskuitjies en skep die res van die mengsel oor. Strooi ‘n lekker laag kakao poeier oor. Sit in die yskas en eet bietjie later.

Cremora Pynappel tert:
Voeg twee blikkies gedreineerde crushed pynappel by jou mengesel.
Skep op beskuitjies en sit ‘n laag geklitste room bo-oor.

Peppermint crisp Cremora:
Hier kan jy jou basiese mengsel maak en dit op twee maniere doen. Jy kan die kondensmelk vervang met caramel en die suurlemoensap weglaat, of die basiese resep so hou….hang af hoe soet jy van die tert hou.
Rasper twee groot Mint Crisps en een groot Peppermint Crisp en voeg by die mengsel.
Skep op die tennisbeskuitjies, sit ‘n laag geklitste room by en sprinkel bietjie van die gerasperde peppermint bo-oor.

Hierdie is net ‘n paar voorbeelde. Het ook al ‘n aarbei een met aarbeie gemaak en ‘n caramel een waar jy net caramel en nie kondensmelk gebruik nie.
Die opsies is baie, so dink bietjie en eksperimenteer.
Geniet dit!
Resepte:  Tanya Rossouw

Jeanette Lombaard –  Ek het 500 g cremora met 1 koppie yswater styfgeklop. Toe 2 sachets cuppicino koffie ingeklits, 2 blikkies kondensmelk ingeklits en toe 250 ml suurlemoensap stadig ingeklits. Die koffie stadig ingesmelt en ‘n ligte koffie geur gegee. Dit is hemels!




GRIEKSE KLAPPERTERT

coconut_cake_170wh
GRIEKSE KLAPPERTERT
125 g botter
250 ml suiker
3 eiers
Room goed saam.

Sif saam:
250 ml meelblom
3 teelepels bakpoeier
knippie sout
Voeg  by:
500 ml klapper
Meng 2 boonste mengsels saam.
DAN, Meng alles met 250 ml lou melk, gooi in 2 gesmeerde tertpanne, bak 35 min by 180°C.

STROOP:
300 ml suiker
300 ml water
1 teelepel vanilla geursel

Kook 5 min saam, gooi oor warm tert, Bedien met room en groenvye. Die tert is vinnig en regtig spesiaal, dit kan ook vir poeding met rumvla bedien word. GENIET!

Resep en Foto: Floraine Wasserman Venter




GEBAKTE KONDENSMELK TERT

kondenmelk terttested
GEBAKTE KONDENSMELK TERT
1 blik kondensmelk
1/2 koppie suurlemoensap
5 eiers geskei 
6 eetlepels strooisuiker
1 pakkie Tennisbeskuitjies

Klits kondensmelk en suurlemoensap saam tot styf.
Voeg geklitste eiergele by
Pak tennisbeskuitjies in tertbord, en gooi die mengsel bo-oor
Klits eierwitte styf en voeg die strooisuiker geleidelik by
Skep bo-op die vulsel
Bak in matige oond so by 150 ºC, tot eierwitte goudbruin is. ENJOY!!!!
Nota:  Om te voorkom dat die tert waterig raak onder die meringue, strooi bietjie maizina oor die tert voor jy die eierwitte opsit, dit help daarvoor – Rina Kleinhans

Resep  Linda Venter
Foto:  Joey Kruger