GROOTMAAT VETKOEKE


GROOTMAAT VETKOEKE
Graag plaas ek my moeder se vetkoek resep.
Ek kry tussen 55 en 60 groot vetkoeke, my drukker is 10 cm by 10 cm.
Jy kan resep halfveer en ook in kwarte opdeel.
5 kg koekmeel
5 eetlepels sout
5 eetlepels witsuiker
400 ml sonneblom olie
4 pakkies droë gis (pers of groen)
4 eiers
3.2 liter louwarm water

Sif droë bestanddele saam, voeg die gis by, meng die olie en eiers saam, gooi by die droë bestanddele. Voeg nou jou water geleidelik by en begin te meng tot sagte deeg, knie vir omtrent 10 min tot elasties. Ek gooi altyd meer water ek hou van ‘n sagte deeg, dan rys dit makliker en blaas ook beter, laat staan om te rys vir so 50 min op warm plekke. Keer uit op geoliede werksoppervlak, druk plat met handpalm tot so 1.5 cm dik, sny in blokke of rond, pak op skink bord om ‘n 2 de keer te rys. Wanneer jy hul in die warm olie sit, gooi dadelik warm olie oor, as jy sien dit blaas op, keer dadelik om, dit sal nog wit wees aan die onderkant, maar dit is reg, bak beide kante tot mooi bruin en gaar.
Nota: Met ‘n vierkantige drukker mors ‘n mens baie min deeg, met ‘n ronde drukker is daar baie mors tussen in, jy kan weer daardie off-cuts in ‘n bol vorm, maar ek het gesien so na die 2 de keer raak die deeg taai en wil nie meer ‘n lekker vetkoek maak nie.
Resep en foto: Magda van der Merwe