PERI-PERI HOENDERMAGIES
Ek het 2 kg skoongemaakte hoendermagies vir die resep gebruik.
Ek kook die magies met 3 koppies water, sout na smaak en ‘n ui in die elektriese drukkoker vir 30 minute (ek vind dat die magies baie sag is en later amper in jou mond smelt☺). Sou jy die magies meer ferm verkies verlaag die kooktyd in die drukkoker na 15 minute.
Intussen skil ek 3 uie en sny in klein blokkies.
In ‘n swaarboomkastrol verhit ek ‘n goeie blerts olie tot warm en plaas die uie in. Roer af en toe tot
uie op die punte en kante verbruin.
Ek skil 3 meduim aartappels en sny in kleinerige blokkies. (ek maak die aartappel saam met die hoendermagies in die swaarboomkastrol gaar omdat die aartappel fyn kook en die peri-peri sous teen die einde ‘n heerlike dikkerige tekstuur verskaf).
Sodra die uie verbruin is, voeg ek 2 eetlepels goeie kerrie poeier bo-oor (kies of ‘n warm of meduim kerrie poeier). Ek voeg ook ‘n teelepel hoender masala, ‘n teelepel borrie, 6 heel pepperkorrels, ‘n halwe eetlepel “ginger paste”, een en ‘n halwe eetlepels “crushed garlic” by. Meng deur oor matige hitte.
Haal die hoendermagies uit die drukkoker en voeg by die uie en spesery mengsel.
Voeg die blokkies-aartappel by.
Gooi die hoendermagie aftreksel van die drukkoker by die inhoud in die swaarboomkastrol. Roer goed deur en laat prut vir so 30 minute oor matige hitte. Roer so af en toe deur.
Proe of daar nog sout na smaak bygevoeg moet word.
Bedien warm met rys of stywe pap of enige ander bykos.
Die Peri-Peri Hoendermagies vries ook goed.
Resep en fotos: Johan Maritz