BUKS SE BERE FRIKKADELLE
Party aande het ‘n mens nie tyd of lus om kos te maak nie en ook nie lus vir ‘n groot maaltyd nie. Dan is twee plat frikkadelle uit die vrieskas net die antwoord. Party naweke (soos vandag) voel jy lus om ‘n bietjie in die kombuis te spook sonder om te werk, dan is dit die tyd om jou voorraad plat frikkadelle te maak:
Meng bymekaar:
2 kg binneboudmaalvleis
4 groterige gerasperde wortels
1 groot, fyngekapte ui
braaivleisspeserye, pietersielie, roosmaryn en sout
(Asseblief geen broodkrummels, hoendereiers, meel of ander goed wat ‘n frikkadel kan bederf nie.)
Vorm met die hand plat frikkadelle en druk hulle goed en ferm vas.
Uit 2 kg gemaalde vleis behoort ‘n mens so 24 aanvaarbare frikkadelle te kry.
Knyp die frikkadelle in ‘n toeknyprooster vas en braai dit buite oor ‘n kwota-wag-‘n-bietjievuurtjie se kole.
Eet maar een of twee of vier terwyl jy wag dat hulle koud genoeg word om te verpak en te vries. Pak hulle twee-twee of meer langs mekaar (na gelang van jou verwagte eetlus) in plastieksakkies en vries om hulle anderdag net te ontdooi en warm te maak vir ‘n voortreflike versnapering of ete.
Die lewe is eintlik baie lekker as ‘n mens net die regte resep ken, en ware rykdom is ‘n voorraadjie plat frikkadelle in jou vrieskas.
Resep: Buks Barnard