KITI SE SPINASIE ROL
1 bos silverbeet- gekap, of 200 g pakkie gevriesde spinasie
1 ui, gekap
7 stukke bacon, gekap
250 g sampioene, gesny
2-3 knoffelhuisies of teelepel poeier
250 g room
100 g Cheddar kaas, gerasper
bietjie olie of botter vir braai
sout en peper
2-3 velle skilferdeeg
bietjie melk en sesamesaad vir bo oor.
Roerbraai die silverbeet of spinasie bietjie om van die meeste vog ontslae te raak en te laat verwelk. Hou eenkant in vergiettes sodat enige water wat vorm kan afloop.
Braai die uie met knoffel en sampioene, saam of apart (ek verkies apart, dit gaan vinniger en ek kan albei karameliseer (meer smaak).
Braai bacon tot bruin en voeg uie en sampioene by bacon. Roer deur. Voeg spinasie by.
en dan room, nie te veel nie jy wil die mengsel net lekker klam hê. Proe en voeg sout en peper na smaak by. Haal af van die hitte. As daar dalk te veel vloeistof is kan jy so bietjie langer kook, pasop net room wat gekook word kan uitskei (skif).
Skep die mengsel uit in ‘n plat bak sodat dit vining afkoel (of los net eenkant vir ‘n ruk). Moenie warm mengsel op deeg sit nie. Rol jou velle deeg (moet skilfer wees) uit tot vierkante. (In Suid Afrika sal een opgerolde hoeveelheid dalk genoeg wees, ons s’n kom in gevriesde plat velle).
Skep ‘n derde van jou vulsel in die middel af op elke vel maar los so 2cm teen die kante oop, strooi met kaas en rol op soos ‘n groot worsrol. Vou die kante 2 keer oor en druk vas (jy wil nie hê dit moet uitkook nie).
Smeer bietjie melk oor elke rol, sny 3 vlak snytjies vir die stoom ontsnap in elkeen en strooi met sesame/poppie sade.
Bak teen so 190°C vir so 20-25 minute, die deeg moet net gaar en bruin word, jou vulsel is reeds gaar.
Dis heerlik vir eet, selfs volgende dag. Dis heerlik by braai.
Kan sonder bacon gemaak word vir vegetariers.
Bron: my skoonma Kiti Citi