STAANRIB (LAMSRIB) IN DIE WEBER
Een heel lamrib gesmeer met olyf olie en gesprinkel met suurlemoenpepper kruie (die Ina Paarman ene het reeds sout in, so nie nodig vir ekstra sout).
Spuit jou toeknyp rooster met kleefvrye sproei aan die binnekant waar jou ribbetjie aan die kante gaan raak.
Sit die rib in die rooster, maak toe en maak seker die twee handvatsels is stewig vas met die draad skuif ogie.
Maak hardehout vuur met 3 stukke hout op een kant van jou Weber. Sodra die ergste vlamme begin afneem, sit jou rooster regop op die kant teenoor die vuur en hou in posisie met stuk draad wat aan die Weber se handvatsel vasgemaak is en dan gebuig op die ander punt om hakie te vorm wat aan die rooster gehak word.
Hou maar jou ribbetjie dop en draai in die begin so elke 15 minute om, sodat albei kante van die ribbetjie eweredig gaar kan word.
Onthou om ook só te draai dat die kante wat bo is na onder gaan en so stadig maar seker gaar word.
Sprinkel elke keer met suurlemoensap. As dit lyk of jou kole begin uitbrand en jou hitte begin afneem, sit net een stuk hout op ‘n slag op om die hitte konstant op medium te behou.
As jou vuur te warm is, gaan jou ribbetjie brand voor hy gaar is.
Hierdie ribbetjie het so 2 en half ure gerooster voordat ek dit afgehaal het.
Ek het dit bedien met gebakte aartappel met creme fraiche (suurroom) en eenvoudige tamatie & blaarslaai.
Resep en foto: Elsabie Templeton