OOSTENRYKSE AARTAPPELGEREG
700 g aartappels
2 uie, in ringe gesny
4 hardgekookte eiers
sout en peper na smaak
2 eetlepels meelblom
50 g botter
275 ml hoenderekstrak*
2 eetlepels wynasyn
1 eetlepel soyasous
1 eetlepel balsamiese asyn
Skil en sny die aartappels in groterige blokkies. Kook die aartappels dan tot sag maar nog stewig, in gesoute water. Dreineer en hou eenkant. Verhit bietjie olie in ‘n braaipan en braai die uie oor lae tot medium hitte tot baie bruin. Roer gereeld dat dit nie aanbrand nie, en indien die pan te droog raak, kan ‘n paar druppels water bygevoeg word. Wanneer die uie bruin is, voeg ‘n eetlepel sojasous by en prut oor lae hitte tot die vloeistof verdamp het. Roer gereeld. Voeg nou die balsamiese asyn by en roerbraai oor hoër hitte tot die vloeistof verdamp het. (Hierdie is ‘n stadige proses, so moenie haastig raak nie.) Hou eenkant.
Smelt die botter in ‘n kastrol en voeg die meel by. Roer deeglik oor lae hitte vir ‘n minuut of twee, tot die botter behoorlik met die meel gemeng is. Voeg die hoenderekstrak en die wynasyn bietjie vir bietjie by terwyl vinnig met ‘n draadklitser geklits word om te verhoed dat klonte vorm. Die sous moet nie te styf wees nie, so pas maar aan met bietjie meer water of meel tot die korrekte tekstuur verkry is. Geur met sout en peper, maar indien reeds sout hoenderaftreksel gebruik is, moet dit in ag geneem word.
Voeg nou die aartappels, uie en eiers wat in stukke gesny is, by die sous en roer versigtig deurmekaar, sodat al die bestanddele met die sous bedek is. Laat prut oor lae hitte vir enkele minute tot alles deur warm is en bedien dadelik.
*Nota – Ek gebruik hoenderekstrak blokkies met ‘n rissie geur. Dit gee so ‘n lekker skerpte aan die gereg.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete