GRIEKSE AMANDELKOEKIES, KOURABIETHES
Ek het Jamie O se resep effens aangepas en die volgende gedoen:
75 g fyn amandels of amandelmeel
250 g sagte botter of by kamer temperatuur
125 g versiersuiker plus ekstra vir strooi
30 ml brandewyn
1 groot eier geel
300 g koekmeel
1/2 teelepel bak poeier
Room botter tot lig en romerig. Sif die versiersuiker daarby in en voeg brandewyn en eiergeel by en meng nog paar minute.
Voeg die amandelmeel, koekmeel en bakpoeier by en meng met metaallepel tot al die meel ingevou is. Dit mag lyk of die mengsel nog krummelrig is maar dit sal bymekaar druk om deeg te vorm.
Ek het deeg in drie stukke gedeel en elk op meelbestrooide oppervlak uitgerol tot so ongeveer 4cm dik en toe 4cm stukkies gesny sodat al my bolletjies ongeveer dieselfde grootte kan uitbak (kyk my fotos vir verwysing).
Plaas op bakpapier op bakplaat so paar cm uitmekaar en bak in voorverhitte oond by 160°C vir 15-20 minute of tot baie ligbruin.
Maklikste manier om die versiersuiker storie te doen is sit foelie op werksoppervlak neer en sif ‘n laag versiersuiker oor. Sodra die koekies uit oond kom pak hulle op die versiersuiker en sif nog versiersuiker bo-oor. Laat dit so staan tot afgekoel en pak in houer met versiersuiker op bodem en gooi die versiersuiker op die foelie wat oorgebly het bo-oor en sit deksel op wat goed seël.
Resep lewer sowat 60 koekies.
Nota: Ek sal volgende keer stukkies amandel insit. Dis al wat ek mis in hierdie resep.
Resep en foto: Elsabe Templeton