HEERLIKE HOENDERPASTEI
Bestanddele:
1 heel hoender
1 ui, fyngekap
½ hoenderblokkie, verkrummel
1 pakkie kitsroomhoendersop
1 knoffelhuisie, fyngedruk
1 eetlepel pietersielie, fyngesny
½ eetlepel botter
1 teelepel olie
1 vel fillodeeg
Metode:
Plaas die hoender in ’n oondbraaipan en voeg 500 ml water by. Strooi die pietersielie, ui, knoffel en hoenderblokkie oor die hoender en oondbraai teen 180°C vir 1½ uur. Laat dit afkoel as dit gaar is en verwyder die vel, ontbeen die hoender en snipper. Meng die soppoeier tot dit ’n pasta vorm, voeg dit by die hoenderaftreksel en kook dit op die stoof tot dit verdik. Voeg die versnipperde hoender by en kook vir 10 minute. Laat dit afkoel en plaas die hoendermengsel in ’n pasteiskottel en bedek met die fillodeeg. Verhit die olie en botter en verf dit oor die fillodeeg. Bak teen 180°C vir sowat 30 minute tot dit bruin is.
Wenk: Jy kan ook uie en sampioene braai en saam met die hoender voeg voor jy die pastei met fillodeeg bedek.
Bron: lekkeslaap
https://www.lekkeslaap.co.za/lekkeslaap-blog/hartskos-teen-die-winterkoue