TUNA SOUTTERT
Hierdie is een van die soutterte wat ek vanmiddag opgespoor het en probeer het, baie vinnig en maklik, ek het hom so bietjie aangepas. Dit is ‘n klein tertjie, so ek stel voor mens maak hom dubbel of bak in nog ‘n kleiner pannetjie as julle net twee is. Julle sal sien aan die foto, hy is redelik plat, maar baie lekker
100 g uie, gekap
20 g margarine/ olyf olie
170 g tuna, gevlok (1 blikkie)
80 g Cheddar-kaas, gerasper (of helfte feta)
100 g sampioene, gekerf
Halwe koppie gaar rys
3 gerkins fyn gesny
knippie rooipeper
40 g afgeroomde melkpoeier en water om 300 ml op te maak of room
2 eiers
5 ml mosterdpoeier
30 g koekmeel
5 ml sout
vars gemaalde swartpeper
5 ml droë gemengde kruie
Spuit ‘n 20-cm-tertbak met kleefvrye spuitmiddel – verhit oond tot 180 Grade C
Soteer uie in margarien tot sag. Voeg sampioene by en braai liggies. Haal van die warm plaat af. Voeg die res van die bestandele by die uie mengsel. Klop melk en eiers saam. Meng mosterdpoeier, koekmeel, sout, peper en gemengde kruie saam. Roer eiers en melk geleidelik by meelmengsel, klop om klonte te voorkom. Skep in die tertbak , besprinkel met paprika en bak sowat 40 minute lank in die middel van die oond tot gestol.
Mikrogolf-metode:
Soteer uie en margarien 1-2 minute op hoog tot sag. Meng al die bestanddele saam soos beskryf en sprinkel met paprika of mikrogolf- verbruiningsmiddel. Mikrogolf 12-15 minute op medium tot gestol.
Foto en aangepaste resep: Rina Kleinhans.