PERSKE- OF PIESANGBLATJANG
Piesangblatjang:
12 geskilde piesangs, in ringe gesny
1 koppie (250 ml) sultanas
2 groot gekapte uie
1 koppie (250 ml) suiker
1 eetlepel (15 ml) kerriepoeier
2 koppies (500 ml) wit asyn
1 eetlepel (15 ml) sout
knippie rooipeper
2 stukke pypkaneel
Meng die bestanddele in ‘n geskikte kastrol en prut stadig tot dik. Kook sonder ‘n deksel en roer gereeld omdat dit baie maklik aanbrand. Die blatjang behoort binne sowat 35 minute dik en geurig te wees. Proe en verwyder die kaneel. Bottel soos beskryf. Bewaar om ryp te word. Heerlik met kerrie, koue vleis en op toebroodjies met hard gekookte eier.
Mikrogolf: Mikrogolf onbedek op hoog 10 minute op ‘n keer. Stop, roer en toets die bestandheid. Dit sal sowat 20 minute duur.
Variasie:
Om appelblatjang te maak, vervang die piesangs deur 750 g kookappels. Vervang die wit suiker en asyn deur bruin suiker en asyn.
Perskeblatjang
2,5 kg geskilde, ontpitte, stewige geelperskes, fyn gesny of gekap in ‘n voedselverwerker
2 groot gekapte uie
2 groen soetrissies, in blokkies gesny of in die voedselverwerker gekap
5 koppies (1,25 liter) bruin asyn
6 koppies (1,5 liter) bruin suiker
1 eetlepel (15 ml) sout
1 teelepel (5 ml) fyn gemmer
1 teelepel (5 ml) mosterdpoeier
1/2 teelepel (3 ml) rooipeper
3 knoffelhuisies, met sout of in die knoffelpers fyngedruk
Meng al die bestanddele tot by die sout in ‘n geskikte kastrol. Prut 2-3 uur lank baie stadig tot die mengsel dik en aromaties is. Voeg die gemmer, mosterd, rooipeper en knoffel by. Bring weer tot kookpunt en bottel. Bewaar om ryp te word.
Foto van piesang blatjang – Cecile-Marie’ Grünewald