LEMOENPAMPOENTJIES MET EIERVRUG EN TAMATIEVULSEL
3 lemoenpampoentjies
300 g eiervrug
15 ml olie
1 blik heel tamaties
5 ml gedroogde oreganum, of 15 ml vars
sout en varsgemaalde swartpeper
40 g fetakaas
15 ml broodkrummels
10 ml olyfolie
Halveer die lemoenpampoentjies en haal die binnegoed met ‘n teelepel uit.
Plaas in ‘n kastrol en gooi water by sodat dit tot ongeveer in die helfte van die lemoenpampoentjie kom.
Kook vir 20 minute tot sag.
Intussen kan jy met die vulsel begin.
Sny die eiervrug in blokkies van ongeveer 1 cm. Gooi sout oor en laat dit vir ten minste ‘n kwartier in ‘n vergiettes staan.
Na die tyd verstreke is, kan jy die eiervrug onder lopende water afspoel en effens met ‘n vadoek droogdruk.
Verhit die olie in ‘n pan en braai die eiervrugblokkies totdat dit begin sag word, so 10 minute.
Kap die heel geblikte tamaties in blokkies en voeg dit saam met al die sousigheid in die blikkie by. Kook dit vir nog ongeveer 5 minute. Voeg die oreganum by. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Verwyder van die hitte. Krummel die fetakaas in en voeg die broodkrummels by.
Skep die lemoenpampoentjies hoogvol met die vulsel en bak in die oond by 180 °C vir 15 minute.
Foto: Elize Grobbelaar
geskuif