LEKKER SNOEK IN DIE OOND
Vir die van ons wat nie so gelukkig is om ‘n binne-braai te hê nie, is hierdie ‘n ideale oplossing as die reën in emmers afkom in die winter.
1 Snoek, afgespoel en drooggedruk met handdoekpapier
4 – 5 eetlepels botter of “best for baking” margarien
Vars suurlemoensap van 1 groot suurlemoen
5 ml vars knoffel, fyngedruk
sout en varsgemaalde swartpeper
Voorverhit oond op 190ºC.
Plaas die botter of margarien, suurlemoensap en knoffel in ‘n groot oondpan en plaas vir ‘n rukkie in die oond terwyl die oond warm word. As dit lekker gesmelt het en begin borrel, verwyder uit oond.
Plaas die snoek (vel onder) in die bottersousie.
Bak vir 10 minute, verwyder uit oond en draai versigtig om. Geur met sout en peper aan die vleiskant.
Bak ‘n verdere 10 minute, verwyder uit oond en smul!
Ek het ‘n baie groot snoek gehad en het een helfte op ‘n slag gaargemak. Die baktyd is so kort, dit het sommer vinnig gegaan. As jy te veel vis in die oondpan het, gaan dit stoom en nie lekker bak nie.
Dis belangrik om die snoek onmiddellik uit die oond te verwyder sodra die 20 minute baktyd verstreke is. Vis kan binne ‘n minuut of twee te gaar raak, dan is dit droog en onsmaaklik.
Bedien met aartappels of patat in die skil en lekker tuisgemaakte koolslaai.
Resep en foto: Louise Groenewald