KRUMMELPAP OP DIE KOLE
3 koppies mieliemeel
2 koppies water
1 teelepel sout
Dit is heel normaal vir die pap om ’n kors onderin die pot te maak.
As jy lus het, kan jy die pot selfs verhit net voordat jy die kors uit- haal en dit dan saam met ’n klontjie botter eet.
Kole Medium tot koel
Kry die water aan die kook en voeg die sout by.
Haal die pot van die vuur af.
Mik vir die middel van die pot en gooi al die mieliemeel in ’n hoop in die water. Jy behoort nou ’n ‘mieliemeel-ys-berg’ in die pot te hê.
Die basis is onder water en die boonste deel steek in die middel van die pot bo die water uit.
Sit die deksel op en skuif ’n paar kole onder die pot in.
Jy wil hê die water moet effens borrel, maar eintlik moet die res van die water in die mieliemeel in stoom.
Jy kan een of twee keer kyk of daar genoeg hitte is en die water darem in stoom verander,maar moenie te dikwels kyk nie,want stoom gaan verlore elke keer as jy die deksel oplig – stoom wat veronderstel is om in die meel (en nie die blou lug nie) in te trek.
Ná 20 minute haal jy die deksel af en gebruik ’n tweetandvurk om die ysberg te breek.
Roer die pap met mening saam met enige water wat nog in die pot oor is totdat die inhoud soos krummelpap lyk.
As jy dink sake lyk ’n bietjie droog (jy behoort so te dink), voeg ’n koppie water (koud of warm) by en roer die pap met ’n tweetandvurk.
Sit weer die deksel op en laat aanhou stoom oor matige hitte vir nog so 20 minute.
Bedien warm.