1

VARKBOUD IN DIE WEBER BRAAIKETEL

varkboud op weber

VARKBOUD IN DIE WEBER BRAAIKETEL

(kan ook in ‘n gewone oond gaargemaak word)Hierdie is een van Ina Paarman se gunsteling-resepte en is baie gewild by fynproewers wat daarvan hou om in die buitelug te onthaal. Dis ‘n staatmaker wat ook maklik in ‘n elektriese oond gaargemaak word vir enige kuier-geleentheid.1 heel (kleinerige) varkboud van ongeveer 3,5 kg
olyfolie
Ina Paarman’s Lemon & Black Pepper Seasoning
1 x pakkie Ina Paarman’s Lemon & Herb Coat & Cook Sauce
appelsous of kweperpuree vir bedieningVra die slagter om die varkboud se vel in een stuk af te haal sodat daar nog ‘n dun lagie vet op die varkboud agterbly. Hou die vel eenkant tot omtrent 30 minute voordat die boud bedien word. Sit die vel op kombuispapier op ‘n bord en sit dit oop sonder enige bedekking in die yskas.Vryf die boud reg rondom in met die Lemon & Black Pepper geurmiddel. Vryf nou in met olyfolie. As jy tyd het, laat hierdie gegeurde boud nou oornag in die yskas rus.(Bedek liggies met kleefplastiek).

Bereken vooraf die totale gaarmaaktyd van die boud. ‘n Veilige formule is om die boud 1 uur vir elke kg wat dit weeg, teen 170°C te bak, met ‘n pro-rata hoeveelheid tyd bygereken vir die hoeveelheid gram meer as ‘n kilogram. ‘n Varkboud van 3,5 kg sal dus 3 uur en 30 minute bak. Aan die einde van die gaarmaakperiode voeg jy altyd 20- 25 minute ekstra gaarmaaktyd by.

Indien jy ‘n gas-braaiketel het, stel die hitte op medium-warm (170°C) of verhit jou elektriese oond vooraf to 170°C. Indien jy met brikette braai, sorg vir matige (nie baie warm nie) kole.

Sit die boud oop op die draadrakkie van die ketelbraai of in die gewone oond. Maak die Weber se deksel toe. Sit ‘n bak of foeliehouer onder die rakkie waarop die boud is, om die souserigheid wat afdrup op te vang.

Bak die boud vir ongeveer 2 ure en moenie die oond of die braaiketel onnodig oopmaak nie.

Sny nou met ‘n sker ‘n klein hoekie van die Lemon & Herb sous se pakkie af, en gebruik die pakkie soos ‘n spuitbuis. Spuit ‘n dun lagie sous bo-oor die varkboud, maak die oond of braaiketel weer toe en bak verder. Bespuit elke 20 minute, totdat al die sous opgebruik is.

Verwyder die boud en plaas in die lou-oond, of toegemaak onder foelie op ‘n dienbord op ‘n warmskinkbord om vir 15 – 20 minute te “rus”. Die rusperiode sal ‘n sappige eindproduk verseker.

Vryf die vel in met sout en ‘n bietjie olyfolie, en sny in 2 cm repe vir individuele porsies. Sit oop op ‘n bakplaatjie en bak in ‘n warm oond (200°C) of selfs onder die oondrooster totdat die velkant goudbruin en bros is. Dit kan halfpad omgedraai word om die vetkantjie ook bros te bak.

Sny die varkboud in dun skyfies en sit voor saam met die repe bros varkvel (crackling) en warm appelsous of kweperpuree.

Korrelmosterd is ook heerlik saam met die skyfies varkboud.

Opdieningswenke:

Polenta of aartappels in enige vorm is heerlik by die boud. Sit ook voor met ‘n helderkleurige verskeidenheid groente.

Koue skywe varkboud is veral heerlik saam met mosterd, blatjang of “chilli jam” op toebroodjies die volgende dag.

Om die aantal porsies uit ‘n varkboud maklik te bereken, werk op 220g rou vleis per persoon.

Dis altyd ‘n goeie idee om jou varkboud vooraf by jou slagter te bestel. Vra spesiaal vir ‘n boud van ‘n kleinerige varkie, dan sal jy verseker wees dat die boudjie ‘n mooi “ronde” vorm het. As daar nie ‘n kleinerige varkboud beskikbaar is nie, gebruik ‘n deel van ‘n groter varkboud, maar vra jou slagter om dit vir jou te ontbeen en vas te bind vir ‘n netjiese vorm.

Heiner Lange
Foto Zelda Fouche