KALKOEN MET VULSELS
Met ons gevulde kalkoen op die spyskaart vir Kersdag het ‘n mens geen ander vleisgereg nodig nie. Ons het ‘n geurige worsvulsel vir die nekholte gemaak en die liggaamsholte met ‘n brood-en-appelvulsel gestop.
Van die oorskietvulsel het ons spekrolletjies en frikkadelletjies gemaak om saam met die kalkoen voor te sit.
KALKOEN:
1 kalkoen
sout
suurlemoensap
50 g (60 ml) sagte botter/margarien
30 ml koekmeel
ontbytspekrepe
glanskersies
WORSVULSEL:
125 g onbytspek sonder swoerd
1 ui
15 ml botter/margarien
500 g varkwors
5 ml roosmaryn/salie
BROOD-en-APPELVULSEL:
25 g botter/margarien, gesmelt
250 g (4 x 25 ml) sagte witbroodkrummels
250 g (300 ml) geskilde, grof gerasperde Granny Smith appels
50 ml fyn gekapte pietersielie
fyn gerasperde skil van 2 suurlemoene
1 ml elk majolein en tiemie
sout en peper na smaak
Berei die kalkoen die vorige aand voor. As jy ‘n gevriesde kalkoen gebruik, sorg dat dit heeltemal ontdooi is. Verwyder die sakkie met afval in die liggaamsholte.
Skroei alle haartjies af en trek alle stukkies penveer uit wat in die vel afgebreek het. Sny die oliekannetjies uit. Was die kalkoen binne en buite met warm water waarin ‘n bietjie koeksoda opgelos is. Droog dit met papierhanddoek af en sout dit binne-in. Vryf die vel buite met suurlemoensap in. .
Snipper die ontbytspek en ui. Smoor dit in die smeer. Haal die vleis uit die worsderms. Voeg die spekmengsel en kruie by. Maal die kalkoenafval en voeg dit ook by. Meng alles goed.
Vul die nekholte met die worsvulsel en hou die vulsel wat oorskiet. Vou die nekvel na die rugkant om en steek dit met ‘n vleispen van of werk dit met ‘n dik naald en dun tou aan die rugvel vas. Swaai die vlerke oor die rug.
Meng al die bestanddele vir die brood-en-appelvulsel liggies saam. Stop die liggaamsholte lossies daarmee – moenie dit te styf stop nie, want dan is die gaar vulsel kluitjierig! Hou die vulsel wat oorskiet. Werk die opening met ‘n dik naald en dun tou toe of steek dit met peuselstokkies vas. Weeg die kalkoen om die gaarmaaktyd te bepaal.
Meng die 50 g (60 ml) smeer en meel en vryf dit aan die kalkoenvel. Bind die bene aanmekaar. Plaas die kalkoen op sy rug op ‘n groot, dik stuk aluminimfoelie in ‘n oondpan. Bedek die borsmet repies ontbytspek. Vou die kalkoen dig toe in die foelie. Plaas dit in ‘n koel oond by 160ºC (325ºF) en bak dit totdat driekwart van die baktyd verstryk het.
Die gaarmaaktye is soos volg:
3 tot 3 en1/2uur vir ‘n kalkoen van 3 tot 4,5 kg
3 en1/2 tot 4uur vir ‘n kalkoen van 4,5 tot 6 kg
4 en1/2 tot 5uur vir ‘n kalkoen van 6 tot 9 kg
Verhoog die oondtemperatuur vir die laaste driekwart van die baktyd tot 200Cº (400ºF).
Haal die kalkoen versigtig uit die foelie en plaas dit in ‘n skoon bakpan. Verwyder die spekrepe op die bors. Bak die kalkoen tot mooi bruin en blink en bedruip dit gereeld met van die sous wat in die eerste pan agter gebly het. Bak terselfdertyd die spekrolletjies en frikkadelletjies tot gaar.
Dit word soos volg gemaak:
Rol frikkadelletjies van die oorskiet-vulsels. Fatsoeneer party van die frikkadelltjies in worsies, draai dit met ‘n reep ontbytspek toe en steek dit met ‘n peuselstokkie vas. Druk ‘n glanskersie deur die een punt van die stokkie. Plaas die rolletjies en frikkadelletjies op ‘n draadrak in ‘n bakpan en bak dit sowat 20 minute tot gaar en bruin.
Skep die vet van die oorblywende pansous af en maak ‘n lekker bruinsous om by die kalkoen op te dien.
Sit die kalkoen warm of koud voor.
Resepte geplaas deur Diane Roode Hancox